MunicipalNews

Waar is die waterdruk?

Só wil ’n inwoner van Brackendowns weet nadat hy agtergekom het dat die waterdruk by sy huis nie bevredigend is nie.

Hy  was reeds drie keer vanjaar by die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit (EMM) om vas te stel waarom die waterdruk in die Brackendowns area so laag is.

Clive Page (70) en sy vrou Hester (68) het verduidelik dat hulle graag antwoorde wil hê.

“Ons kom al vir ’n geruime tydperk agter dat die waterdruk nie bevredigend is nie. Dit is deesdae só erg dat die sproeiers wat ons aangeskaf het om die tuin nat te maak nie eers gebruik kan word nie,” het Clive verduidelik.

Hy het in die RECORD se teenwoordigheid sy tuinkrane sowel as die kombuiskraan oopgemaak om sy stelling dat die waterdruk nie sterk genoeg is nie, te staaf.

Hester het ook drie verskillende sproeiers aan die tuinslang gekoppel voordat Clive die kraan op sy maksimum oopgemaak het – en steeds het die sproeiers nie saamgewerk nie.

“Ek voel die munisipaliteit moet hulle werk doen en dit uitsorteer. Dit help nie hulle sê dit is as gevolg van die vele nuwe ontwikkelings wat in die area plaasvind nie,” het Clive gesê.

“Hulle moet mos daarvoor voorsiening maak, soos om groter pype of ’n meter wat die waterdruk kan meet, te installeer.”

Hy het gesê die probleme was reeds daar vandat hulle twee jaar gelede in hulle huis ingetrek het.

“Tóé was die waterdruk reeds pateties, maar dis net asof dit van toe af net vererger het.”

Die RECORD het navrae aan Themba Gadebe, die munisipale woordvoerder, gerig en wag vir sy terugvoering.

Verwante artikels:

• Water pressure problems in Meyersdal

• Ekurhuleni water supply currently under preassure

• Ekurhuleni invests R500 000 for a water tower

Related Articles

Back to top button