’n Hart vir Kersfees

’n Kerskonsert om fondse vir minder bevoorregte families in te samel word deur Coert Grobbelaar aangebied.

ALBERTON- Bekende Wagner tenoor, Coert Grobbelaar, glo Kersfees is ’n tyd vir naasteliefde en welwillendheid en nooi dus almal uit na sy liefdadigheids Kerskonsert op 7 November om 18:30 by die NG Gemeente Alberton Suid.

Die Cantare Kinderkoor, Colla Voce Jeugkoor en Laerskool Orion se seniorkoor sal ook saam Grobbelaar optree. Grobbelaar het vanjaar ’n sang en revuegroep gestig by Laerskool Orion en hulle sal saam met hom en begeleier, Rudolf Geldenhuis, ’n item lewer.

Volgens Grobbelaar is daar kinders en ouer mense wat Kersdag niks sal hê om te eet nie. “Vir hulle is dit net nog ’n dag om te probeer oorleef. Ek dink nie ons besef hoe groot die nood daarbuite werklik is nie. Ek wil graag ’n ernstige beroep doen op die gemeenskap om hierdie uitvoering te ondersteun ter wille van dié wat dit broodnodig het,” verduidelik hy.

Die ingangsfooi vir volwassenes is R50 per persoon en daarmee saam vra Grobbelaar dat elkeen ’n blikkie kos of ’n pakkie nie-bederfbare produkte saambring. Ingang vir kinders is gratis en hulle word versoek om speelgoed vir liefdadigheid te bring. Die kos en speelgoed sal deur Ligstad en die Hervormde Kerk van Eikenhof versprei word na daar waar die behoefte die grootste is.

Die konsert beloof om van ’n hoë gehalte te wees en bekende kersliedere en koorstukke sal opgevoer word.

lees gerus: Muse van die melodie

Exit mobile version