Local newsLocal NewsNewsUpdate

OPVOLG: Gewapende roof by Mall of the South – slagoffers praat

Inkopiegangers vertel van die oomblikke toe skote tydens Mall of the South rooftog klap.

“DIT was ’n traumatiese ondervinding – selfs ek was bang!”

Só het Hannes van Zyl van Germiston gesê toe hy en sy vrou, Mari, Maandag, 12 Oktober, by die Mall of the South winkelsentrum in Aspen Hills was tydens die gewapende rooftog.

Ses rowers het in die middag die Browns en Swarovski juwelierswinkels binnegestorm en juweliersware gesteel. Die totale waarde van die gesteelde juwele is nog onbekend.

“Die skote het sowat 40 tree van ons af geklap, ons het binne-in ’n winkel gehardloop vir skuiling omdat die skote só erg geklink het.”

Die winkelsentrum se winkels het die deure begin toetrek en van die inkopiegangers kon deur die vensters sien hoe swaar gewapende polisielede in die gange verby beweeg. Van Zyl self het nie die rowers gesien nie.

“Van die vroue, insluitend my vrou, was baie emosioneel en het begin huil. Die polisie was regtig baie vinnig op die toneel en het van die inkopiegangers, insluitend ons wat naby die toneel was, uit die winkels begelei.”

Salome Volek van Meyersdal het aan die RECORD gesê sy en ander inkopiegangers het dadelik na hulle voertuie gehardloop toe hulle die skote hoor.

“Ek het sopas by die winkelsentrum aangekom toe ek die skote hoor,” verduidelik Volek.

Sy het ook ’n vrou hoor skree: “Kom weg, hulle is besig om te skiet!” en gesien hoedat van die inkopiegangers eers vir ’n oomblik gevries het.

“Omdat die mure van die winkelsentrum die klank laat eggo, kon ’n mens nie vasstel presies van waar dit afkom nie – so jy weet nie regtig of jy daarheen of daarvan weghardloop nie.”

Soos Volek haar na buite gehaas het, het sy ander inkopiegangers probeer waarsku van wat aangaan. “Toe ek by my eie voertuig kom het ek soos ’n riet gebewe. ’n Mens kon toe reeds die polisiesirenes hoor aankom.”

Beide Volek en Van Zyl het gesê hoewel die rooftog vir hulle baie traumaties was sal dit hulle nie keer om weer na die Mall of the South te gaan nie.

“Ek sal nie toelaat dat simpel kriminele my intimideer nie. Die winkelsentrum is baie mooi en gerieflik. Ek hoop net dat die sekuriteit opgeskerp sal word,” het Volek opgemerk. “Ongelukkig is dit nou amper die feesseisoen waartydens sulke gevalle meer gaan gebeur.”

Van Zyl het gesê hy is reeds die volgende dag weer terug na die winkelsentrum en dat als reeds weer normaal gelyk het.

“Ek dink al is die rooftog steeds vars in mense se geheue het dit net deel van ons samelewing geword. Ek dink ons het maar net begin aanvaar dat hierdie tipe dinge orals gebeur – daar is nie meer ’n tyd of plek vir kriminele nie, want hulle kan jou selfs by die huis inwag.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button