‘Vandale’ beskadig glo braaigeriewe

Die braaigeriewe was die vorige dag nog gebruik, maar toe ’n inwoner Maandag deur die park stap, het geblyk vandale het op hul eie manier partytjie gehou.

LOUIS Kruger (64) van New Redruth is ontsteld nadat sowat vyf braaigeriewe by ’n ontspanningspark in St Aubynweg en Eaton Terrace moontlik laat Sondagaand gevandaliseer is.

“Ek was Sondag kerk toe en die braaigeriewe by die parkie was toe nog reg,” het Kruger, wat naby die park woon, gesê.

“Die braaigeriewe se strukture moes iewers gedurende die nag omgestoot gewees het.”

Hy het gesê hy het die RECORD om hulp genader nadat hy deur die park gestap en die geriewe beskadig gevind het.

“’n Mens is geneig om die munisipaliteit vinnig op hulle foute uit te wys, maar wanneer die munisipaliteit iets vir die gemeenskap doen soos om braaigeriewe te voorsien, dan word dit ook beskadig.”

Hy het voorts gesê dit blyk of die gemeenskap nie meer respek vir die munisipaliteit se eiendom het nie al word dit tog deur belastingbetalers betaal.

“Waar trek ’n mens dan die streep met mense wat genot daaruit put om publieke eiendom te vandaliseer?”

Kruger is ook ontsteld omdat rommel oral in die park sigbaar is, ten spyte daarvan dat daar genoegsame vullisdromme regoor die park opgerig is.

’n Groot klip naby ’n vullisdrom het blykbaar die plek geword waar veral glasbottels flenters gegooi word en dit kan ’n gevaar vir kinders wat in die park speel, inhou.

Volgens inligting is die braaigeriewe deur die munisipaliteit verwyder, maar dit is nog nie bevestig nie.

Die RECORD het die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit (EMM) om kommentaar genader en wag nog vir terugvoering.

Exit mobile version