Op 90 is Marie nog ‘n staatmaker

Ten spyte van die feit dat Marie Brits 16 September 90 jaar oud geword het, is sy nog deel van AMCARE se hartklop.

ALBERTON-Al het Marie Brits op 16 September 90 jaar oud geword, is sy nog deel van AMCARE se hartklop.

“Ouderdom is alles in ’n mens se kop, dis hoekom ek bly werk, as jy by die huis sit met jou handjies gevou dan word jy oud,” sê Marie.

By AMCARE is sy betrokke by die keurings proses van die kandidate wat wil deel wees van die bakkery of die naaldwerk kursusse. Elke kandidaat dien ’n CV in en betaal R20 om te kwalifiseer. As die persoon die kursus getrou bywoon ontvang hulle ’n sertikaat en die R20 terug. Marie verduidelik trots dat Pick n Pay en Ascot Mews al dames van die bakkery opgeraap het.

Marie vertel van die dag 14 jaar gelede toe dominee Neil Robbertse van die Metodiste kerk haar by die huis kom haal het om vir haar iets te wys. “Ek kon nie glo wat ek sien nie, die plek was vervalle! Toe hy die eerste stal se deur oopmaak was dit net brommers en bossies! En goeiste dit het gestink! Ek het vir hom gesê hy is mal, maar hy het gevra waar is jou geloof Marie en kyk hoe lyk AMCARE vandag.” Dit het die vrywilligers ’n jaar geneem om die plek skoon en gereed te kry vir aksie.

Marie het in Germiston grootgeword en was vir 12 jaar die senior maatskaplike werkster vir die destydse Oos-Transvaalse spoorweg. Sy onthou haar jong dae toe sy met ’n fiets vanaf Graaff-Reinet na Adendorp toe gery het om mense te help. “Ek is net nie ’n mens wat kan sit en kousies brei nie, dit is nie my talent nie. Elke mens moet doen waarin hul in goed is,” glo Marie. Sy het tot drie jaar gelede nog huisbesoeke gedoen vir AMCARE, maar fokus nou haar energie op die kursusse.

Marie se laaste woorde getuig van haar nederige hart: “Asseblief moet nou nie ’n groot ding oor my maak nie, fokus eerder op AMCARE”.

lees gerus: AMCARE cares for the elderly

Exit mobile version