Local NewsNews

Ook ‘n slagoffer van snelweg rowers

Lenie du Venage se voertuig is ook beskadig nadat dit 'n sementblok op die R59 getref het.

NOG ‘n motoris het skade opgedoen nadat sy noodgedwonge oor ‘n sementblok, wat in die middel van ‘n besige hoofweg geplaas is, moes ry.

Verskeie lesers het die RECORD al gekontak oor veral klippe wat op snelweë deur moontlike opportunisitiese misdadigers geplaas word, nadat Jacobus Myburgh, die RECORD-nuusredakteur, onlangs self onder dié misdadigers se handewerk deurgeloop het.

Lenie du Venage het haar storie op die Facebook-groep Alberton Against Crime gedeel, waar sy veral motoriste wat van die R59-hoofweg gebruik maak waarsku.

Haar voertuig het nagenoeg R120 000 se skade opgedoen, nadat sy en haar man, Hansie, die afgelope Saterdagoggend (22 Augustus) oor ‘n sementblok moes ry, toe hulle die Sybrand van Niekerk afrit geneem het, onderweg na haar seun Ettienne se rugbywedstryd, wat in Aucklandpark plaasgevind het.

“Die sementblok was reg in die middel van die hoofweg geplaas; ek kon glad nie uitswaai nie, omdat daar motors aan weerskante van die pad was,” het sy gesê.

Sy is onseker of daar enige misdadigers langs die pad was, omdat ‘n ander motoris oomblikke daarna langs hulle stilgehou het, om hulp aan te bied.

“Dié klip was so groot dat dit onder die motor vasgesit het. Dit het daartoe gelei dat ons vasgesit het en nie vorentoe óf agtertoe kon beweeg nie,” het sy vertel.

Omdat daar olie onder die voertuig uitgelek het, het sy oorspronklik gedink dit is die oliebak.

“Die versekering het ons egter in kennis gestel dat die olie van die ratkas afkomstig is, nadat dit deur die sementblok beskadig is.”

Sy het bygevoeg dat motoriste wat laataand en vroegoggend op die pad is meer bedagsaam moet wees.

 

Supt Wilfred Kgasago, woordvoerder vir die Ekurhuleni Metropolisie Departement (EMPD), het gesê die metropolisie patrolleer die snelweë, maar dat padgebruikers veral op die uitkyk moet wees vir snelweg rowers op hierdie snelweë:

• M2 Oos tussen Cleveland- en Refineryweg in Germiston.
• M2 Wes onder die Hoofrifweg-brug en die N3-kruising.
• N3 Noord tussen die Elandswisselaar en Van Buurenweg.
• N3 Suid tussen Van Buurenweg en die M2-kruising.
• Op die N12 veral naby Putfonteinweg in Benoni.

 

Related Articles

Back to top button