Alberton groet ’n sportlegende

Barney Buys, 'n voormalige SA amateur bokskampioen en Alberton se heel eerste sportman van die jaar, se wedloop is na 52 jaar en vyf maande deur ’n hartaandoening op 28 Julie beëindig.

ALBERTON  – Alberton sport is gewis armer nadat die klok vir Alberton sportkolos, Barney Buys, se laaste rondte gelui het.

Hierdie voormalige SA amateur bokskampioen en Alberton se heel eerste sportman van die jaar, se wedloop is na 52 jaar en vyf maande deur ’n hartaandoening op 28 Julie beëindig.

Die laaste eer is deur die Albertongemeenskap, die sportwêreld en sy geliefde familie aan Barney, op 4 Augustus in die Martin’s Funerals kapel, in New Redruth betoon.

Op 19 Februarie 1962, is Barend Rudolph Buys, of Barney Buys soos hy alombekend was, gebore. Die Albertonner het die paadjie na bo geklim om die gesogte SA amateur bokskampioenskapstitel in 1983 te verower. Hiervoor is hy as die eerste sportman van die jaar gekroon by die 1984 Alberton Burgermerietetoekennings. Dit het 17 jaar geduur voordat Alberton weer ’n SA kampioen in die amateur bokskryt kon oplewer.

JONG KAMPIOEN: Só sal Barney Buys onthou word as 16-jarige bokskampioen in hierdie argief-foto, regs met sy hande op die trofee wat Oos-Transvaal verower het in 1979 as die kampioen boksprovinsie in die land.
*Huldeblyk deur Peet van Niekerk, wie Barney Buys se hoogtepunte in die sportarena beleef het.

Barney was ’n geliefde sportikoon, wat sy pad oopgeveg het in die bokskryt en ook ingekruip het in die harte van almal wat die voorreg gehad het om met hom in aanraking te kom. In die drie dekades na sy groot triomf, was hy aktief betrokke by die Alberton Amateur Boksklub as beide afrigter en organiseerder. Barney het in die tagtiger en negentiger jare gedien as mede-stigter en hoofafrigter by die destydse Bracken Boksklub. Tussendeur het hy ook krieket gespeel vir die Alberton munispale klubspan, terwyl hengel en jag sy ander groot liefdes was.

Barney se harde werk in die beroepswêreld, sy deursettingsvermoë, dissipline en hoë doelwitte is tydens die laaste eerbetoon aan hom, uitgesonder.

Lank nadat die ink droog sal wees op al sy sportprestasies wat in die annale opgeteken staan, sal Barney voortleef in die harte en gedagtes van sy geliefdes en die Alberton sportgemeenskap.

• Huldeblyk deur Peet van Niekerk, wie Barney Buys se hoogtepunte in die sportarena beleef het.

 

Exit mobile version