Local newsNews

Sy droë humor sal gemis word

Gielie Strydom (69), ’n geliefde inwoner van Alberton is onlangs oorlede.

GIELIE Strydom (69), ’n geliefde inwoner van Alberton, is na ’n kort siekbed, twee weke voor sy 70ste verjaarsdag oorlede.

Gielie se swaer, Les Cloete, het in sy huldeblyk gesê hy was alombekend in sy woondorp vir sy droë humorsin en mensliewende geaardheid.

“Hy was iemand wat met almal gesels en oor die weg gekom het. Hy het almal se verjaarsdae onthou en hulle selfs gebel om geluk te sê.”

Hy was vir 37 jaar werksaam in Springfield by Diensprodukte Rand, waar hy met naaldwerkmasjiene en sy vaardigheid klere vir die weermag voortgebring het.

11 jaar gelede het Gielie vir Jane Bibby, sy sielsgenoot, ontmoet wat hom van Jesus geleer het en saam het hulle die lief en leed van ander leer ken terwyl hulle Bybelstudie gaan doen het en vir die siekes gaan bemoedig het.

“Hy was ’n toonbeeld van hoe God eenvoudiges in sy wonderlike raadsplan gebruik,” het Les gesê.

Gielie en Jane se grootste lekker was hul jaarlikse uittog Badplaas toe.

“Ons het soms gespot dat dit hulle hemel op aarde is, maar Jane is ’n rukkie voor hom na die Here en nou weet ons hulle is op ’n veel beter plek.”

Gielie word deur sy suster, Hannetjie Cloete oorleef.

Related Articles

Back to top button