VIDEO: Baksteengooi-slagoffer toon goeie vordering

Caden Slabbert, die 8-jarige baksteengooi-slagoffer wat meer as drie maande gelede op die N12-hoofweg beseer is, se ma vertel oor sy vordering.

KRUGERSDORP — “DIT voel of engele heeltyd om jou is. Geestelik voel ’n mens nie alleen nie.”

Só het Andriëtte Cooper, ma van die agt-jarige Caden Slabbert, by hul huis in Krugersdorp gesê.

Tweede maande gelede het hulle lewens in ’n oogwink onherroeplik verander toe ’n boosdoener ’n baksteen deur die ruit van die motor, waarin Caden, sy sussie Eden en hul pa Justin Slabbert gery het, gegooi het.

Die noodlottige voorval het op die N12-hoofweg naby The Glen-winkelsentrum gebeur.

DANKBAAR: Andriëtte Cooper is dankbaar dat haar seun Caden Slabbert (middel) goed herstel na die noodlottige voorval meer as twee maande gelede. Saam met hulle is sy sussie Eden Slabbert.

Die impak was so sterk, dat die baksteen ’n deel van Caden se skedel uitgeslaan het en sodoende sy brein ontbloot het. Caden het gevolglik in ’n koma verval en is in die intensiewesorg-eenheid van die Netcare Clinton Hospitaal in Alberton opgeneem.

LEES OOK: Attacked on N12: a second car was also targeted

“Ons het vir die ergste begin voorberei omdat dokters hierdie besering as een van die ergste breinbeserings beskou. Dit is net met genade en geloof dat Caden sulke goeie vordering maak,” sê Andriëtte.

Aanvanklik is daar vir die gesin gesê dat daar ’n moontlikheid is dat die seuntjie met sy vriendelike geaardheid nie weer dieselfde sal wees nie.

Baksteengooi-slagoffer se ma praat:

“Daar was ’n lys vir ons gegee en ons is dankbaar dat nie een van daardie dinge al gebeur het nie.”

Een van die punte op dié lys was dat Caden moontlik vir die res van sy lewe in ’n vegatiewe gesteldheid mag verkeer en nie weer ’n normale lewe sal kan lei nie.

LEES OOK: The two victims of the N12 attack are recovering

“Nou is selfs die dokters verbaas oor hoe goed hy vaar. Caden is reeds vir twee maande by die Netcare Auckland Park Rehabilitasie Hospitaal waar hy rehabilitasie ontvang en al vat ons dit dag-vir-dag gaan dit reeds baie beter met hom.

“Hy het wel persoonlikheidsveranderings, maar dokters het gesê dit is normaal en sal met die tyd verbeter.”

Caden, wat weer by die huis woon, was ’n maand gelede nog op die vlak van ’n vier-jarige, maar Andriëtte voel dat hy binnekort weer op die vlak van ’n agt-jarige sal wees.

HOOP BESKAAM NIE: Dit is hoe Caden Slabbert (regs), ‘n leerling van Monument Primary School in Krugersdorp gelyk het voor die noodlottige voorval wat sy lewe onherroeplik verander het. Sy sussie Eden (links), is ook in dié skool.

“Hy is besig om dinge wat hy vergeet het weer te onthou. Sy spraak kom weer reg en hy is selfs weer besig om wiskunde en Engels te leer. Omdat Caden nog nie na ’n gewone skool sal kan gaan nie, sal ons hom vir eers na ’n spesiale skool stuur totdat hy weer op die vlak van kinders sy ouderdom kan werk.”

Sodra die vel rondom die spesifieke deel van Caden se skedel, wat tans in ’n mediese yskas gestoor word, ten volle genees is, sal dokters die skedel tydens ’n rekonstruktiewe operasie terugplaas.

“Ek is net bly dat die mediese fonds sover al Caden se onkostes dek, dit is ’n finansiële las van ons skouers af,” het Cooper gesê.

Verwante artikels:

Attacked on N12, boy still in coma

The two victims of the N12 attack are recovering

N12 attack: Stable but still asleep

 

Exit mobile version