Local newsNewsSchools

Na ses jaar is Classic Clash-trofee Marais Viljoen s’n

Hoërskool Marais Viljoen het vanjaar totaal skoonskip gemaak in hul Classic Clash-sportstryd teen Hoërskool Florida.

ALBERTON – Marais Viljoen se slagspreuk is ”100 persent Marais Viljoen”, en hul sportspanne het 100 persent gegee om vir die eerste keer in ses jaar die gesogte Classic Clash-trofee hul tuiste in Alberton te maak.

In die groot rugbywedstryd, die finale klimaks van die sport tweestryd, het Marais Vijoen se eerste rugbyspan, onder aanvoering van Marco Saaiman op flank, met 40-14 botoon gevoer.

Na Florida se reuse-neerlaag, die vorige naweek teen Monument, het die tuisspan in blou aanvanklik gesukkel met hul ingesteldheid om op dreef te kom, en was Marais teen rustyd met slegs 14-6 voor.

Geleidelik het hul samespel, korrekte lyne hardloop en alle aspekte van die spel mooi bymekaargekom, en Marais Vijoen se ses drieë, teen ‘n enkele een van die groenspan, vertel die hele verhaal van hoe die bordjies verhang is. Marais Viljoen se driedrukkers, in volgorde, was as volg: skrumskakel Migael du Plessis die eerste een, gevolg deur Ruan Behr, daarna die vleuel Johan Duncan se eerste, Dawie Botha, Thys Mulder en die laaste een Johan Duncan se tweede drie. Die heelagter, Jonathan Muller, het vyf van die ses drieë verdoel.

By die A-spanne, wen Marais drie van die vyf wedstryde: eerstes 40-14, o.16A 31-25 en tweedes 50-0. Florida wen die o.15A wedstryd met 22-43, en die o.14A wedstryd met 15-22.

Die tuisskool se sterk netbalkrag is in blou gedemonstreer, met nege uit nege: o.16A 29-12; o.14A 20-11; o.15A 27-5; o.17A 22-7; Nasché Blum se eerstespan 51-11; o.16B 39-9; tweedes 21-14; o.14B 19-13 en o.15B 34-2.

Op die hokkieveld is sprankelende oorwinnings deur beide Marais se eerstespan seuns (1-0) en die eerste dogterspan, aangevoer deur Nicole Frey, met 2-1 behaal. Die o.15 dogters wen met 4-0, die o.14A dogters met 6-0, die o.16 seuns met 1-1 en die o.16 dogters speel gelykop met 2-2. Die o.14 seuns delf egter die onderspit met 1-3.

Veels geluk aan die skoolhoof, Martie Heystek, die afrigters, alle spelers en ondersteuners met hierdie formidabele prestasie. Julle het Alberton voorwaar trots gemaak in die skool se 54ste bestaansjaar.

Related Articles

Back to top button