Ligstad sê dankie

Danksy ‘n paar donateurs, glimlag die kleuters van Ligstad deesdae breed en is die opgradering van die veiligheid by die naskoolsentrum goed op dreef.

ALBERTON –  ‘n Anonieme donateur het deur Triangle Construction Projects vir Ligstad ‘n pragtige sand speelarea gebou. Die donateur het ook sy verskaffers se arms gedraai om al die materiaal en die behandelde sand te skenk.

Die kleuters van die speelgroepie, en kinders van die naskoolsentrum stroom daagliks tydens vryspel-tyd na die area om daarin te baljaar.

Ligstad se elektroniese voetgangerhek is ook in volle gebruik en is gratis geïnstalleer deur Eagle Automation.

Aan Martie Visagie en Dawie van Eagle Automation sê Ligstad dankie vir hulle onbaatsugtige donasie en vriendelike diens aan die fasiliteit.

Die ouers en die personeel van Ligstad is nou meer gerus as gevolg van die feit dat die beheerde toegang baie gemoedsrus gee.

Ligstad is ‘n projek van Alberton vir Alberton, en dit is instansies en individue soos hierdie wat dit moontlik maak vir ons om dienste te lewer aan die gemeenskap.

Aangesien Ligstad ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie is, kan Artikel 18(A) kwitansies voorsien word vir donasies wat aan Ligstad gemaak word.

Vir enige navrae is u welkom om vir ds Eduard Enslin te skakel, by 084 440 8514.

Alida Jooste, maatskaplike werker/projek bestuurder by Ligstad.

Exit mobile version