Local newsNews

Ma en seun se blye omhelsing – ná 18 jaar

“Dit is soos ‘n laat verjaardaggeskenk, maar beslis die beste een wat ek ooit kon kry.”

Só het ‘n ma van Krugersdorp vertel toe sy drie weke gelede met een van haar seuns, wat sy 18 jaar gelede gesien het, mee herenig is.

Toe Deon Dekker (22) by die Alberton Polisiestasie ‘n tydelike werk losgeslaan het, was hy salig onbewus van ‘n ma wat so gretig is om met hom kontak te maak.

Vir jare lank het hy ook oor sy ma Lindie Becker (43), gewonder, en al het hy van haar bestaan geweet, kon hy nie meer onthou hoe sy lyk nie.

“Sy lyk presies soos ek haar in my verbeelding geskep het,” het Deon gesê.

Die hartseer verhaal van hoe ‘n ma kontak met haar seuns verloor het, het onlangs weer nuwe lewe gekry toe die Alberton Polisiestasie ‘n foto wat op Facebook versprei is, gesien het.

Lindie se suster Kristine van Wyk het die foto’s van haar seuns op die sosiale media platform gesit in die hoop dat hulle antwoorde sou kry.

“So drie weke gelede het die polisiestasie my suster gekontak oor ‘n man wat by hulle begin werk het. So stilweg het hulle foto’s uitgeruil en dit is toe dat dit bevestig is dat dit my seun is!”

Sy vertel dat sy en haar man geskei is toe die seuns nog baie jonk was. Sy het intussen weer getrou.

“Hy het toe toesig oor die kinders verkry, maar ek kon hulle steeds oor naweke sien. Maar die een naweek toe ek weer na hulle toe is, het ek die nuus gekry dat hulle verhuis het.”

Dit is toe dat sy kontak met haar kinders verloor het. Hulle het telkemale na ander areas verhuis, wat haar soektog om met hulle in kontak te kom, bemoeilik het.

Haar eksman is intussen ook oorlede, en die ouma het na hulle begin omsien.

“Vir jare lank het ek hulle nie gesien nie, en het ek oor hulle gewonder. Ek was natuurlik baie bekommerd.”

Lindie het gesê toe sy vir Deon die eerste keer na so ‘n lang tydperk sien, was dit ‘n blye ontmoeting.

“Ons het mekaar omhels en mekaar doodgedruk. Ek wou alles van hom weet, soos of hy al getroud is, kinders het, maar dit lyk of hy nog na daardie spesiale persoon soek.”

Haar suster Kristine het dit alles stilgehou en haar met Deon verras.

Lindie se ander seun Andries is glo in Pretoria werksaam. “Ek gaan seker maak ek verloor nie weer kontak met my kinders nie!”

 

Related Articles

Back to top button