CMR koopbewys vir bedelaars

Die CMR het wonderlike terugvoer gekry oor die 'Committed to Care Gift Voucher' projek na aanleiding van 'n berig in die REKORD, maar daar blyk onduidelikeid oor die onderwerp te wees.

ALBERTON – Die publiek koop die “koopbewys” by die CMR Alberton vir R20, gee dit vir iemand wat op straat bedel, en die onus rus dan by daardie persoon om na CMR Alberton te kom vir hulp.

“In ruil vir die koopbewys doen ‘n maatskaplike hulpwerker ‘n behoeftebepaling,” verduidelik Ankia van CMR. “Ons vind uit of daar ‘n gesin is waarna daar omgesien moet word. Is daar dalk ‘n afhanklikheidsprobleem waaraan aandag geskenk moet word, beskik die persoon oor kwalifikasies waarna ons in kontak met mense kan kom wat werkers nodig het. Ons reël ‘n tuisbesoek, gee kos, en indien nodig, klere. Ons moet ook in ag neem dat ‘n hawelose persoon nie oor die fasiliteite beskik om self kos te maak nie en verwys dus sulke persone na ons sopkombuis. Ons gee ook nie baie klere op ‘n slag nie, aangesien ons bewus is daarvan dat die hawelose mense dikwels beroof en aangerand word.

“Behuising is baie skaars, maar indien die persoon behoefte het aan ’n heenkome, soek ons vir hulle plek in ’n skuiling of shelter. Ons kan ongelukkig nie mense en families wat buite ons diensarea is, help nie en verwys hulle na organisasies in daardie areas. Ons wil graag die ‘koopbewys’ projek so bestuur dat ons bewus is van elke persoon daar buite wat hulpbehoewend is,” sê Ankia.

Indien jy wil betrokke raak en ‘n koopbewys wil koop, kontak die CMR by 011 907 292.

Exit mobile version