Community AnnouncementsNews

Ken jy ‘n burgemeester sonder ‘n ketting?

Solidariteit Helpende Hand wil graag erkenning gee aan die onbaatsugtiges, die harde werkers en die verskilmakers in jou gemeenskap!

ALBERTON – Ken jy ‘n burgemeester sonder ‘n ketting? Daardie persoon wat betrokke is by hul plaaslike instellings of kerk, wat patrollie ry om die buurt veilig te hou of kosmaak vir die skool se voedingsprojek? Dit is die persone wat Helpende Hand wil erken en vereer vir die verskeie maniere waarop hulle hul gemeenskap help en ophef.

Dit is die mense wat deur hul gesamentlike honderde aksies help bou aan ‘n groter visie vir ‘n positiewe Afrikaner-toekoms.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het tydens ‘n openbare toespraak gesê dat die Afrikaner se oorlewing lê in gemeenskap-selfstandigheid en sterk gemeenskapsleiers. Volgens hom is die Afrikaner se toekoms afhanklik van sterk burgerlike instellings waardeur lewensruimtes geskep word.

“Hendrik en Miems van der Westhuizen is die burgermeesterspaar van Waverley, die woongebied waar ek woon. Hendrik is die burgemeester, maar sonder die ketting,” het Hermann verduidelik. “Hy is nie ‘n verkose politieke leier nie, maar die gemeenskapsleier. Hy organiseer die patrollies, organiseer die radionetwerk, is voorsitter van die atletiekklub en reël alles en nog wat. Miems maak toebroodjies vir arm Afrikaners en is oral betrokke. Beide is betrokke by ‘n suksesvolle Christelike privaatskool. As fondse ingesamel moet word, is Hendrik en Miems daar. As ons praat van Afrikaner-leiers moet ons nie soek na groot politieke leiers wat van ‘n sentrale stelsel af regeer nie, maar die Van der Westhuizens wat vanuit die gemeenskap werk.”

Die Burgemeester-sonder-ketting-projek is dus daarop gemik om nie net erkenning te gee aan die huidige staatmakers in ons gemeenskappe nie, maar ook as aanmoediging te dien vir almal wat glo in ‘n beter toekoms.

Persone wat graag ‘n “burgemeester sonder ‘n ketting” in hul gemeenskap wil nomineer, kan ‘n motivering van nie meer as 200 woorde stuur na adele@helpendehand.co.za. Nominasies sluit 15 April 2015.

Related Articles

Back to top button