Kuiergroep vir verstandelik gestremdes

Families met verstandelik gestremde kinders word genooi om gesellig saam te kom kuier.

AKLBERTON – Die eerste ding wat jou opval wanneer jy die Strydom-gesin ontmoet, is die liefde wat oorloop in hierdie hegte eenheid.

Uit die staanspoor is dit ook opvallend dat daar vir die ouerpaar, Piet en Elaine, geen onderskeid tussen hul drie seuns is nie – al is Richardt (20), hul oudste, verstandelik gestremd. Die REKORD het nader gaan kennis maak na aanleiding van ‘n brief wat Elaine gestuur het, en haar wens om ‘n sosiale byeenkoms, ‘n kuiergroep vir verstandelik gestremdes in Alberton te begin.

Richardt is as normale baba gebore en kort voor hy drie maande oud was, was hulle in ‘n motorongeluk waartydens hy breinskade opgedoen het. “Hoewel Richardt sy skooljare by die Hamlet skool deurgebring het, het dit gou vir ons duidelik geword dat hy op ander maniere besig gehou en gestimuleer moet word toe hy daar klaar was. Hy het by ons in die werkswinkel begin werk, maar dit was ooglopend dat hy geen belangstelling getoon het in wat die werkswinkel hom gebied het nie,” vertel Elaine.

Pa Piet gaan verder: “Mens wil tog vir hom ook ‘n vol lewe hê. ‘n Lewe waarin hy nuttig kan werk … maar ook ‘n lewe waarin hy vriende kan maak en sosiaal kan verkeer in sy eie kringe.”

En dit het hulle gebring by baie jare se huisvriende, en ‘n wonderlike idee is gebore. Richardt het September 2014 by Delene en Wesley Grant van Grant’s Dairy begin werk en alledaagse takies verrig. Dit was voor die hand liggend dat Richardt sy nering gevind het. “Hy het sy dagtake, wat hy met trots verrig en help met die versorging van die diere op die grond. Mens kan sommer sien hy is gelukkig hier,” sê Delene en Richardt, met sy skaam glimlag, beaam dit heelhartig en vertel hoe hy sopas die rammetjie-uitnek baasbok na Buffel vernoem het, “want hy luister mos nie wanneer hy moet nie”.

Met Richardt op ‘n plek waar hy gelukkig is, en die fasiliteite wat Grant’s Dairy bied, het die twee gesinne saam besluit dat dit net die regte omgewing is om die verstandelik gestremdes van Alberton ‘n plek te gee om mekaar op sosiale vlak te leer ken.

“Dit is asof die diere iets in Richardt streel, en ek glo dat interaksie met mekaar hier en so tussen die diere ook vir ander baie gelukkige kuiers kan bring,” gaan Delene voort. “Maar meer nog, ons vra ook die met ‘n hart vir mense wat verstandelik gestremd is, om saam met ons te kom kuier, saam te kom gesels, saam te kom leer en om hierdie mense se lewens te kan ervaar. Ons beplan nie net die kuiers nie, maar ook prettighede waaraan hulle kan deelneem, en sal dinge maar so op ‘n proeflopie neem tot ons die regte aktiwiteite bepaal het. Ons kyk na sokker, vlugbal en dies meer tydens hierdie byeenkomste.”

Elaine is dit eens dat hulle hoop dat die groepie nie net groei vir verstandelik gestremdes nie, maar ook vir ouers met verstandelik gestremde kinders, waar hulle as ‘t ware ‘n ondersteuningsgroep vir mekaar kan word.

“Mens is so geneig om te dink jy staan alleen, en tog is daar baie ander mense in ons situasie en ons nooi hulle om saam met ons te kuier. Ek, soos vele ander, voel dat om my kind by ons aan huis te hê vir my belangriker is as baie ander dinge in die lewe. Hy moet aktief deel wees van ons as gesin en ‘n gelukkige en vol lewe kan lei.”

Die eerste byeenkoms vind plaas op Saterdag, 14 Maart om 09:00 by Plaasstoep Koffiewinkel, Grant’s Dairy, 114 Jacoba Straat, Norton Small Holdings (geleë net agter die Alberton Dam).

Vir meer inligting bel Elaine 011 864 4121 of 072 756 2538 of Delene 011 902 8490. Besoek ook hul Facebookblad ‘Ons verstandelik gestremdes se kuiergroep’ vir meer inligting.

Exit mobile version