Local newsNews

Trix stap haar toekoms binne

Hierdie jong vrou het 'n borrel in haar wat lewenslus en -vreugde uitbruis - so ietsie spesiaal wat ongelooflik aansteeklik is.

ALBERTON – In vorige beriggewing het Albertonners gehoor sy is iemand wat in kinderharte by Ligstad se naskoolsentrum ingekruip het en dat sy die sentrum in Desember gaan verlaat om te gaan studeer. Maar wie is Trix Schutte regtig? Waar kom sy vandaan en waarheen is sy op pad? Die REKORD het nader gaan kennis maak.

“Ek is ‘n Alberton-meisie. Ek het hier groot geword en in Generaal Alberts skoolgegaan en my hoërskoolloopbaan het ek by Hoërskool Dinamika voltooi.”

Daar is ‘n effense huiwering voor sy blinkoog verder begin vertel: “Dinamika is ‘n ongelooflike skool. In my tyd was daar een ‘amazing’ man, die hoof mnr. Dieter Böhmer. Ek kan met eerlikheid sê dat my lewe hier ten goede onder sy leiding verander het, en dat ek geestelik gegroei het in hierdie jare.”

Oor op en af in die lewe:

“My ma is oorlede toe ek 11 jaar oud was. En soos die lewe maar is, is daar draaie wat geloop word. In graad 11 is ek as Beatrice Coetzer, dis eintlik my naam, in pleegsorg geplaas. Dit was ‘n hartseer maar ook goeie hoofstuk in my lewe. Ek het in hierdie tyd my hart opreg vir die Here gegee en Hy het vir my ‘n nuwe lewe gegee. Ek is deur my Afrikaanse juffrou aangeneem en Trix Schutte het ontstaan. Ek is as leier aangewys en het aan kultuur en noodhulp deelgeneem.

“Ek het leer vergewe en aanbeweeg deur wonderlike mense wat op my pad geplaas is; my aanneem-ouers, Sharon by Sha-Mani waar ek gewerk het van graad 8 tot in matriek, die eienaar van Dumbo Kleuterskool en Creative Kids naskool, waar ek drie jaar gewerk het nadat ek skool klaargemaak het. En toe beland ek in Augustus 2012 by Ligstad en ek het geweet dit is hier waar ek hoort.”

Sy vertel van die eerste onsekere dae toe die Ligstad net-net ontstaan het as projek van die NG Gemeente Alberton Wes. Die waarskuwings van mense omdat sy dalk net sonder werk gaan sit omdat dit so ‘n jong projek was waarby sy ingeskakel het.

“Maar kyk, ek sê altyd, die dag wat die Here jou vat, vat Hy jou nie parkie toe nie. Kyk net hoe het ons gegroei. En ek weet ons maak ‘n verskil in mense se lewens. Hierdie Ligstad gemeenskappie met al sy vrywilligers wat hier uithelp, is besondere mense. Die kerk se deure het dalk gesluit maar Ligstad se deure het oopgemaak, en dit het my lewe geword en so ook ‘n hawe vir baie ander mense.”

Deure wat oopmaak:

Vir Trix wat van jongs af werk het, wat net na skool ‘n ekstra op Binnelanders was en so haar pad na Ligstad gevind het, was verder studeer nie eintlik ‘n opsie – geld was daar net nie.

Tog het Trix gevind dat dit wat haar anker in die lewe geword het, Jerimia 29:11 waar God sê dat Hy weet wat hy vir jou beplan, nog nooit vir haar verkeerd geval het nie.

“Hoewel dinge skeefgeloop het en ek my kar afgeskryf het, was daar ‘n weldoener in ons gemeente wat my gehelp het om my eie weer aan te skaf. Ek het gespaar dat dit klap en met sy gedeelte het ek nou weer ‘n voertuig. So ook vir my studies. Tydens Pinkster het ek weer my getuienis gelewer en ‘n oom in die gemeente het gevra hoekom ek nog nie gaan studeer het nie. Ek was eerlik en het gesê daar is nie geld nie. En so het dit gekom dat die eerste drie jaar van my studies betaal is.

“Nog ‘n weldoener wat oor my pad gekom het… Daar het ‘n oom agter my in die kerk gesit. Hy het sy dogters verloor en ek kon sy seer sien. Ek het omgedraai en hom ‘n sneesdoekie gegee. ‘n Week later het hy my raakgeloop en gesê hy het dit nooit gebruik nie maar in sy Bybel gebêre, en hy het gevra of ek nog gaan studeer. ‘n Paar dae later het hy hier by Ligstad aangekom en gesê hy bring vir my biltong en goeie nuus – die Jagtersvereniging gaan vir my verblyf betaal terwyl ek studeer.

“Die een deur na die ander het oopgegaan vir my. Almal het help soek na blyplek in Potchefstroom en ek het ‘n woonstelletjie by die wonderlikste ou tannie slegs ‘n blok van die kampus af gekry.

“Dit voel of ek vlieg. Ek vat nie grond nie. Die liewe Heer het soveel goeie mense oor my pad gebring. Ek het die ongelooflikste kêrel ontmoet, So terloops, my petrol vir heen en weer tussen Alberton en Potchefstroom kom van hom af,”

Onderwys vs Maatskaplik:

Dit is duidelik dat Ligstad se kinders haar na aan die hart lê en tweryl mens gesels is dit natuurlik om die afleiding te maak dat haar keuse vir studies onderwys sal wees – maar nee, maatskaplik is waar haar hart haar heen lei.

“Na my onderhoude met die onderwys- en maatskaplike afdelings op die Potch kampus, weet ek dat dit wat ek binne my voel gebeur het in die onderhoud met die maatskaplike afdeling, ‘n bestiering was – dit is waar ek weet God my gaan gebruik.

“Met ons aansoeke vir keuring moes ons ‘n stuk skryf oor hoekom ons Maatskaplik wil studeer en ek het my hart oopgemaak, Woorde het net begin vloei en ek het besef my passie vir mense lê eintlik by gebroke mense – en ek het my keuring gekry. Op 25 gaan dit ‘n geweldige aanpassing wees, maar ek sien uit daarna. Dink net – sê nou net ons kan nog so ‘n projek soos Ligstad byvoorbeeld in die Kaap begin en dit Lighuis noem…”

‘n Boodskap vir Alberton:

“Ek kon nie help om die briewe in die koerant oor Alberton-Noord te lees nie. Mense ken nie die mense in Alberton-Noord nie. Hierdie is omgee-mense wat uitreik. Mense met hart. Dis soos Bruce in sy klein winkeltjie wat sê: ‘Trix, don’t worry about the money. Let’s fix the tyre, you have children to fetch.’

“Dan is daar die dokter oorkant die pad wat alles net gelos het en oorgehardloop gekom het toe ek gaan hulp soek het toe een van ons kinders redelik seer geval het. Wanneer ons sukkel met rekenaars en drukkers, staan Alberton Hardware se deure altyd vir ons oop.

“Soos Ligstad groei sal die res van die dorp dit ook sien. In Effesiërs praat Jesus van die een liggaam met sy baie ledemate. Alberton moet so word. Ons moet saamstaan en een wees en dan sal ons dinge kan verander.

“Ek is ongelooflik dankbaar vir mense wat dinge vir my laat gebeur het. Alberton-Wes gemeente se mense sal altyd my mense wees. Ligstad sal altyd in my hart lê. Dit was my trappie na groot dinge en ek het ongelooflik baie by Alida, ons projekbestuurder, geleer. Dit is sleg om weg te gaan maar ek kom terug… soos Bok van Blerk se liedjie sê: ‘Kom terug na die ou klipkerk’, want ek weet hierdie mense, die Wes-gemeente en Ligstad se mense is mense wat my nie sal afskryf nie.

“En laaste maar nie die minste nie: Onthou Jeremia 29:11 – dra dit saam met julle, want die Here beplan vir jou net goeie dinge.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button