Local newsNews

CMR ‘n steunpilaar vir vele

Dit is hier saam met hierdie omgee mense waar die afvlerk mense van Alberton weer 'n kans kry om heel te word...

NA 30 jaar in Alberton kan die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) getuig van genade wat wyd loop en ‘n gemeenskap se ondersteuning wat die afvlerk mense van ons dorp weer standvastigheid gee.

Die Alberton CMR tak het ‘n klein begin gehad en het hulle deure geopen met twee toegewyde personeellede, waarvan een die administratiewe take hanteer het en die ander een die maatskaplike werksaamhede. Vandag is hulle ‘n hardwerkende span van 10.

CMR Alberton voorsien dienste wat gerig is op voorkoming-, beskerming- en statutêre ontwikkeling. Die doel van hierdie dienste is om kinders, families en individue te bemagtig en om die disintegrasie van families te voorkom.

Hulle is tans besig met drie verskillende voedingskemas in Eden Park en Thokoza, waar 1 600 kinders vir vyf dae van die week ‘n maaltyd ontvang.

KFC se Hunger to Hope projek en die Departement van Maatskaplike dienste maak die voedingskemas moontlik.

Met die hulp van ABSA kan die CMR ook betrokke wees by kleuterskole in Thokoza. Hulle bied opleiding aan vir persone wat na kleuters omsien en kan ook boeke, speelgoed en skryfbehoeftes aan hulle verskaf.

Om hul werk beter te verstaan deel die CMR van hul suksesverhale met Alberton se gemeenskap

‘n Nuwe lewe vir Koos:

Koos en sy familie is sedert November 2002 deel van die CMR. Met sieklike ouers en die skielike afsterwe van sy ma in Oktober 2002, het dinge egter vir Koos, op daardie stadium ‘n onbeheerbare agtjarige, net verder versleg.

Vanweë omstandighede is Koos in ‘n kinderhuis geplaas waar hy goed aangepas het maar met sy skoolwerk gesukkel het. In 2007 is hy terug in sy Pa se sorg geplaas. Met ‘n geskiedenis van jeugmisdaad is Koos egter in 2009 in Boys Town geplaas.

Op 17 word hy in die hospitaal opgeneem en gediagnoseer met psigose wat veroorsaak is deur dwelmmisbruik. Die enigste ouer wat na Koos kan omsien, sy pa, het versuim om toe te sien dat Koos sy medikasie gereeld gebruik en sy gedrag het vererger.

CMR se maatskaplike werker plaas hom toe in ‘n rehabilitasiesentrum vir behandeling. In Augustus 2013 word hy ontslaan, maar sonder heenkome gelaat, omdat sy pa intussen na ‘n tuiste vir bejaardes verhuis het. Koos word toe in sy 21-jarige broer se sorg gelaat. Maar selfs hier was omstandighede nie gewens nie en soos die CMR met die broers gewerk het, is daar gevind dat Koos se broer ook by dwelms betrokke was.

In September 2013 kom klop Koos self by die CMR aan en verneem na sy pa. Hy was verwaarloos, sy klere vuil en stukkend, sy hare lank en ongewas en hy het sleg geruik.

Hy kon nie ’n behoorlike gesprek voer nie en het die hele tyd met homself gepraat en beduie. Die hulpwerker het aanbeveel dat hy stort en skoon klere aantrek en dan kon sy hom na sy pa neem, wie in daardie stadium ernstig siek in die hospitaal was. Koos was baie opgewonde om sy pa te sien en skoon klere, ‘n handdoek, seep en tandeborsel is aan hom gegee en hy is gewys waar die stort is. Na ‘n halfuur het die hulpwerker besef dat hy nog nie gestort het nie. Sy gaan na die deur en vra of alles in orde is. Koos vra toe dat sy in die badkamer moet inkom, want hy weet nie wat hy moet doen.

Hy het net daar gestaan, skoon klere in die hand en na die stort gestaar.

Die hulpwerker moes aan hom verduidelik hoe om die krane oop en toe te draai en die skielike water het hom laat lag maar ook laat skrik toe hy die krane later groter oop, pleks van toedraai. Koos het eenvoudig nie geweet hoe ‘n stort werk nie. Die hulpwerker moes aan hom verduidelik dat om skoon te kom, hy nat moet word sodat hy kan was, en so is hy stap vir stap verduidelik hoe om te stort.

Hy het gesukkel om homself aan te trek en moes leer hoe om sy skoenveters vas te maak. Om sy tande te borsel was nog ‘n missie. Hy het ‘n lang tyd vir die tandeborsel en tandepasta gestaar voor hy gevra het: “Antie, wat moet ek hiermee maak?” Tandeborsel in haar hand het die hulpwerker hom geleer hoe om tande te borsel. Sy sal nooit vergeet hoe hy probeer het en aan die lag gegaan het en op die vloer gaan sit en gesê het: “Dit kielie my mond. As iets jou kielie moet jy lag…”

So het Koos elke dag na die kantoor begin kom. Hier het hy kos gekry en hy is geleer hoe om hande te was en selfs sy klere te was. Selfs die kleinste takies moes eers prakties aan hom gewys word. Hy was so opgewonde die dag toe hy gesien het dat die kantoor koördineerder seep in ‘n sykous gesit het en dit aan die kraan buite vasgemaak het. Wanneer Koos op die perseel gekom het, het hy dadelik kraan toe gestap en sy hande gewas.

Later is Koos na die psgiatiese afdeling van ‘n hospitaal geneem waar hy weer medikasie ontvang het. Die hulpwerker het seker gemaak dat hy elke dag sy medikasie neem. Naweke het die werker Koos by McDonald’s ontmoet, vir hom ontbyt en sy medikasie gegee en dan weer saans ook. Die hulpwerker het Koos begin oplaai vir kerk op Sondae. Dit was ook nie sonder glimlagte nie. Koos het van die musiek gehou, maar dit was baie moeilik vir hom om stil te sit en baie moeiliker om stil te bly. Soms het hy aan die slaap geraak.

Na vele navrae is CMR na ‘n tehuis vir ‘Mentally Ill’ persone in Tedderfield verwys. Sy het hulle geskakel, maar Koos was net 19 jaar oud en die tuiste het slegs inwoners van ouderdom 21 af ingeneem teen ‘n koste van R4 000 per maand. Die tehuis het egter besluit om ‘n uitsondering te maak en gesê hulle sal Koos evalueer en dan besluit of hulle hom kan inneem.

Steeds sonder heenkome het weldoeners in die gemeenskap vir Koos ‘n tuiste gegee vir ‘n paar weke. Hier het hy geborge gevoel tussen die familie se vyf kinders met die driejarige seuntjie sy beste maatjie. Wanneer die ander kinders by die skool was, het hy en die driejarige ingekleur en legkaarte gebou.

Die ma van die huis het vir Koos in die bestaande roetine saam met haar kinders geplaas. Hy het op daardie stadium sy bed natgemaak, maar vir hulle was dit geen probleem nie. Hulle het hom geleer om sy beddegoed af te haal en hom gehelp om dit te was en dan weer self sy bed op te maak. Die pa van die huis het hom ook deur die nag gehelp om badkamer toe te gaan, die toilet te gebruik en droog aan te trek. Die gesin het hom soos een van hulle eie kinders aangeneem. Met dié dat Koos gereelde etes ontvang het, sy medikasie gedrink het met ‘n dokter wat hom gereeld gemonitor het, het Koos floreer.

Intussen het die Here weer eens wonderbaarlik ingetree en die tehuis het hom aanvaar teen die helfte van die normale koste, wat deur die kerk gedra is totdat Koos ‘n staatstoelaag ontvang het. Die kerk betaal steeds die tekort vir hom by die tehuis en die hulpwerker gaan haal hom nog elke Sondag vir kerk, waar hy nou stil sit. Hy is baie bemind by lede van die gemeente.

Persoonlik het die hulpwerker weer eens besef hoe almagtig God is en hoe Hy mense gebruik om Sy wil te laat geskied. Die hulpwerker en ander van die gemeente gaan elke Sondag om die Woord van die Here te bedien aan die ander mense by die tehuis. Sy het ook hierdie jaar tydens haar verjaardag die Sondag by hulle gaan spandeer en vir hulle koek, lekkergoedpakkies en koeldrank geneem. Hulle het soos kinders partytjie gehou en gelag en gespeel.

“Mag ons altyd met Jesus se oë en Sy liefde na elke ‘Koos’ wat Hy op ons pad bring, kyk en hulle ook so behandel,” het die hulpwerker gesê.

Tweede kans op die lewe

Mnr. Visser* is een van die kliënte wat die afgelope paar jaar diep spore in ons almal by die CMR se harte getrap het.

By die eerste aanmelding by ons kantoor het Mnr. Visser* aan ons verduidelik dat hy weens ‘n besering aan diens, en die verkoop van die maatskappy waar hy gewerk het, sy werk verloor het. Hy was desperaat om enige werk te doen en het elke week by ons kom aanklop om te hoor of daar enige nuus was. Ons het gereeld vir hom kos, klere, toiletware, komberse en ander benodigdhede gegee sodat hy aan die lewe kon bly. Ons het ook aanbeveel dat hy elke dag na die sopkombuis gaan.

So het ons elke week vir Mnr. Visser* gesien en ons het gedurig vir hom los werkies gegee om te doen waarvoor hy dan ook betaal is.

Mnr. Visser* was al so deel van ons weeklikse lewe vir twee jaar lank, dat die dag toe hy nie meer by ons opdaag nie, ons baie bekommerd geraak het. Vir twee weke het ons niks van Mnr. Visser* gehoor nie, tot eendag wat hy vol trots by ons opgedaag het met sy nuwe uniform aan. Hy het werk gekry as ‘n sekuriteits- en hekwag.

Dit is nou nog twee jaar later en een van die lede van CMR het met hom ‘n onderhoud gaan voer.

Mnr Visser se loopbaan het begin as ‘n konstabel in die polisie, en hy was lid van die tweede groep wat na die Caprivi streek gestuur is om in die grensoorlog in Angola te gaan veg. Nadat hy teruggekeer het van die grens af, is hy getroud en het een dogter gehad. Toe sy dogter agt jaar oud was, is sy vrou aan nierversaking oorlede en het hy sy dogter self grootgemaak.

Maar die lewe het ook vir hom ‘n agterkant gedraai, en hy was vir twee jaar haweloos en vertel dan verder van sy ervaring van die lewe op straat.

“Ek het deur die genade ’n dak oor my kop gehad, maar met geen inkomste om myself te onderhou nie het dit broekskeur gegaan. Ek moes vinnig by ander haweloses leer hoe om na myself om te sien. Ek het saam met die ander Saterdae en Sondae by ’n verkeerslig gestaan en bedel. Die geld was goed, maar die manier waarop mense ons behandel het, was nie na wense nie.

“Die CMR het ‘n groot rol in hierdie tyd in my lewe gespeel. Ek het altyd weer nuwe moed geskep wanneer ek by die CMR was. Hulle het gehelp met kos, klere en komberse in die koue wintermaande. Maar die meeste van alles is dat hulle my soos ’n volwaardige mense behandel het,” vertel hy.

In die gesprek kan mens nie nalaat om te vra of dit vir hom voel of hy ‘n tweede kans gegun is om sy menswees terug te kry nie.

“Dit is verseker. Ek het altyd geglo, maar ek was nie ’n gereelde kerkganger nie. Gedurende daardie tyd het ek na die Living Word kerk gegaan waar ek herdoop is. Die gemeente het gedurig vir my gebid en ek glo beslis dit is deur gebede dat ek vandag ‘n wonderlike werk het. Die Here het vir my ’n tweede kans gegee en ek gryp dit met albei hande aan.”

Geniet jy jou werk?

“Ja, ek sien die lewe nou heeltemal anders. Ek weet hoe dit is om niks te hê nie. Ek word baie goed behandel. Behalwe die salaris wat ek elke maand kry, eet en bly ek verniet. Hulle het vir my ’n bril laat maak en betaal. Maar die allerbeste is dat ek in Desember vir my broer in Oos Londen gaan kuier en dit is alles deur my werkgewer gereël en betaal.

Wat is jou toekomsplanne?

“Ek wil graag weer trou met ’n goeie vrou en weer van voor af begin.”

Het u enige raad of wysheid vir die lesers van die koerant?

“Vertrou op die Here, maar moet nie met klein draaie na Hom toe gaan nie! Wees altyd dankbaar vir dit wat jy het.”

Ek studeer by die lig van die maan

Ons het te hore gekom van ‘n jong seun wat besig is om sy matriek te doen. Sy ma is twee jaar gelede oorlede. Hoewel sy drie jonger sibbe in ‘n plek van veiligheid geplaas is, woon hy steeds in die plakkershut waar hy en sy ma gewoon het. Hy kry elke dag ‘n ete by die skool van die voedingskema, en oor naweke kry hy ‘n ekstra porsie kos om hom deur die naweek te help.

Aangesien daar geen inkomste vir hom is nie, het hy absoluut niks nie. Die plakkershut is steeds soos wat sy ma dit twee jaar gelede gelos het. Hy het geen kerse, geen brandstof om kos te kook nie, en geen kos nie. Hy staan soggens dou voor dag op om by die skool in te gaan sodra hulle die hekke oopsluit. Dan gaan sit hy binne en studeer. Hy bly in die middae by die skool totdat hulle hom vra om te loop. Dan gaan hy na sy hut toe en indien daar ‘n maan skyn, studeer hy by maanlig. Wanneer dit donkermaan is, gaan slaap hy vroeg. Deur dit alles is hy ‘n toegewyde student en wil graag sy matriek klaarmaak. Hy droom daarvan om‘n ingenieur te word. Daar het ‘n artikel oor hom in die koerant verskyn, en die publiek het ongelooflik gereageer. Behalwe vir al die materiële goed wat hy gekry het, het iemand hom ‘n vakansiewerk aangebied met die vooruitsig om na skool ook daar te werk.

Professionele mense maak ‘n verskil

Die maatskaplike werkers kom daagliks in kontak met mense met probleme wat van ‘n nie-maatskaplike aard is. Een so geval is ‘n dame wat al vir sewe jaar ‘n sweer op haar been het wat nie wil genees nie. Sy het hospitale, klinieke en dokters besoek sonder dat dit ‘n vreeslike verskil gemaak het.

‘n Suster wat in wonde spesialiseer, het die kantoor gekontak en haar dienste vir ‘n dag aangebied. Sy is na die dame geneem en het vir haar in haar eie taal verduidelik wat die probleem is. Sy het haar wond skoongemaak en haar geleer om self haar wond behoorlik te versorg en dit gaan met haar baie beter.

Soms het ons, as personeel van CMR, ook hulp nodig om ons dagtake behoorlik te verrig. Dit is wanneer mense soos hierdie na vore tree dat ons hande en ons arbeid verder kan reik.

Hoewel CMR al baie belê het in ons gemeenskap, sal hierdie werk nie moontlik gewees het as dit nie vir die hulp van maatskappye en Alberton inwoners was nie. As dit op jou hart druk om betrokke te raak by een van die gemeeskapsprojekte, kontak hulle gerus by 011 907 2922.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button