Boodskap in bottel keer terug

Dit mag dalk nie die ver en vreemde kus wees waarvoor Pricilla gewens het nie, maar intussen het haar brief-in-'n-bottel gesorg vir opwinding.

ALBERTON – Vir Pricilla Botha was dit nog altyd ‘n droom om op ‘n bootreis te gaan. Haar familie het seker gemaak dat die droom waar word.

Haar dogter, Jolanda Ehlers, het haar uitgenooi om saam met haar op die MSC Melody na die Portugese Eilande te reis. Haar verloofde, Steve Burger, het gesorg vir haar vliegkaartjie na Durban. Die tweede deel van haar droom was om ‘n brief in ‘n bottel oorboord te gooi, met die hoop dat dit op ‘n ver en vreemde kus sal uitspoel.

Op 2 Februarie was daar ‘n storm, maar dit het nie Pricilla se moed gedemp nie, sy was vasbeslote om haar bottel met brief oorboord te gooi. Sy het die uitnodiging wat haar dogter aan haar gegee het vir die bootreis in die bottle geplaas en haar twee dogters, seun en verloofde se kontakbesonderhede daarop geskryf, met die hoop dat die persoon wat dit optel haar sal kontak.

Op 24 Februarie het die Sieberhagen familie, Elmare, Daan en hul Jack Russel, op die strand by Kabeljous, Jeffreysbaai gaan stap. Die rooi lint om die bottel het Elmare Sieberhagen se oog getrek en sy was verras om die uitnodiging met die kontakbesonderhede daarin te vind.

Dit mag dalk nie die ver en vreemde kus wees waarvoor Pricilla gewens het nie, maar intussen het haar brief-in-‘n-bottel gesorg vir opwinding. Die Sieberhagen familie het met Pricilla kontak gemaak. ‘n Foto van die bottel en Elmare en Daan se storie het ook in die Jeffreys Bay Courant verskyn.

Pricilla is in haar skik met die pad wat die bottel gevolg het en sê sy sal graag die Sieberhagen familie wil ontmoet as sy weer eendag in Jeffreysbaai is.

Exit mobile version