President Steyn leerder presteer

Drie atlete van President Steyn Laerskool vaar uitstekend.

DRIE spogatlete van President Steyn Laerskool wat deel was van die Gautengspan verower drie medaljies op die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Hulle help dan ook dat Gauteng aangewys is as die wenspan op die nasionele byeenkoms.

Bernice Viljoen verower twee bronsmedaljes op die SA’s in die 75m en 150m o.12 hekkies. Hierdie buksie toon veral veggees in die 150m hekkies finaal. Tydens die wedloop trap sy die vierde hekkie raak en struikel. Sy veg van agter af om die derde beste o.12 hekkiesdogter in die land te word. Dis ‘n groot prestasie vir Bernice.

Danielle Leonard is die Steyne en Alberton laerskole se enigste SA kampioen. Sy wen die verspring vir o.13 dogters met ‘n ongelooflike sprong van 5.34m om die land se beste te word. Danielle, jy’s ons trots.

Leahne Marais behaal ‘n derde plek in die uitdunne vir 75m hekkies vir dogters o.13. Sy haal nie die finaal nie, maar met haar tyd eindig sy onder die top twaalf 75m hekkies dogters in die land. Mooi so Leahne.

‘n Sprokiesafsluiting vir drie atlete wat in almal se harte gekruip het. Ons is opreg trots op almal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version