Alberton se steunpilaar het n vol lewe gelei

Tannie Grondmol is op 26 Decemeber 2013 oorlede en sal deur familie en vriende onthou word.

ALBERTON – Maria (Mieke) Daleman (gebore Schneider) is op 24 Julie 1920 in Schiedam, Nederland gebore en is rustig op 26 Decemeber 2013 oorlede.

In September 1957 het Maria, haar man, Karel en drie kinders, Freddie, Nelleke en Cokkie na Suid-Afrika geïmmigreer. Die jonste seun, Martin, is in Suid-Afrika gebore.

Sy het die besetting van Nederland as ‘n jong vrou tydens die Tweede Wêreldoorlog meegemaak en dikwels vertel dat sy twee weke in die tronk moes deurbring omdat sy ‘n pakkie ontvang het met sykouse en dat die pakkie nie ‘n afsendersnaam gehad het nie. Daarvoor is sy in die tronk aangehou.

’n Neef van haar is deur die Nazis doodgeskiet. Haar ouers het destyds ‘n Joodse man op hulle solder vir etlike maande weggesteek. Die man is nooit deur die Nazis gevang nie, alhoewel sy familie vermoor is.

“Ma het ‘n sterk persoonlikheid gehad en kon nie ‘n bakleiery of geweld verdra nie. Sy was beginselvas en lewenslank lid van die Gereformeerde Kerk. Sy het haar man in ‘n skoda-karretjie leer motor bestuur (alhoewel sy nooit in Suid-Afrika bestuur het nie) terwyl hulle nog in Randburg gewoon het,” sê haar kinders.

In die beginjare in SA het hulle in Elsburg, Linden en later in Randburg gewoon. In Linden het hulle ook ‘n vark en ‘n koei aangehou en sy was die een wat die koei gemelk het. Maria het ook daarop aangedring dat die familie Suid-Afrikaanse burgerskap aanvaar, wat toe wel gebeur het.

Die familie het in 1967 na Alberton verhuis en baie lank in Penzancestraat gewoon. Sy was lief vir tuinwerk en was altyd vroegdag al daar besig; so het sy destyds die bynaam Tannie Grondmol gekry onder die skoolkinders wat daar verbygeloop het skool toe.

Maria was baie goed bevriend met tannie Hennie van den Bergh en haar suster, tannie Dienie. Tannies Hennie en Dienie was familie van die mense wat die Blou Meul begin het. Die drie dames het die land behoorlik platgery met vakansies.

Met Maria se man se siekte het albei by hul dogter en skoonseun, Koos en Nelleke Huyzers, in Randhart gaan woon. Haar man Karel is in 1996 oorlede. Maria het mettertyd siek geword en is toe met Alzheimer se siekte gediagnoseer.

Sy het die laaste vyf maande van haar lewe gewoon in die A.D. Care Centre in Pretoria-Oos en is op 31 December 2013 in die Kromvlei begrafplaas begrawe.

Exit mobile version