Gemeente en familie groet ds Rotteveel

Ds Rotteveel is op Woensdag 15 Januarie begrawe uit die NG Kerk Brackendowns, waar sy familie en vriende ‘n wonderlike man gegroet het.

BRACKENDOWNS – Dominee Robert de Klerk Rotteveel van NG Kerk Brackendowns is op Woensdag 8 Januarie aan beenmurgkanker, wat hartprobleme veroorsaak het, oorlede.

Twee maande voor sy dood het hy en sy familie eers agtergekom dat hy kanker gehad het. Hy was 55 jaar oud en sou in Mei 56 jaar oud geword het. Hy laat sy vrou, Marlia, en sy seun, Dawie, agter.

Ds Rotteveel was 26 jaar betrokke by die kerk nadat hy gestudeer het. Sy gemeentelede het almal saamgestem dat hy baie lief was vir die Here en ‘n slag met kinders gehad het. Een van sy grootste wense was om kleinkinders te hê.

“Hy het sommer van die kansel af vir lede gevra hoe dit met hulle gaan of sommer net gegroet,” sê een van die gemeentelede. Volgens lede kyk baie mense op na hom.

“Hy sal baie gemis word. Hy het jou altyd laat voel asof jy die belangrikste person was en hy sou berge vir jou verskuif. Die hele gemeenskap voel nou leeg sonder hom,” sê nog ‘n lid van die kerk.

Hy het baie kerkkampe bygewoon en wou graag ‘n doktor word. Sy seun volg nou in sy pa se voetspore.

Ds Rotteveel was besig met sy D graad in antieke tale. Hy het ook die Comrades 10 keer gehardloop waarvan hy drie in sy seuns se arms geëindig het.

Sy stokperdjie was om foto’s te neem, spinnekoppe te versamel en sommer net om vir diere te sorg. Baie sal ook sê dat dit altyd in sy belang was om daar te wees vir diegene wat hom nodig gehad het.

 

Exit mobile version