Local newsNews

Ligstad verwelkom die feesseisoen

Kersstyd 2015 sal altyd onthou word as ’n tyd waar almal betrokke by Ligstad nie net ontvang het nie, maar ook gegee het.

INDIEN daar iemand was wat nog nie die Kersfeesgevoel gehad het by Ligstad nie, is dit na dese onomwonde aangekondig en beleef.

Kersstyd 2015 sal altyd onthou word as ’n tyd waar almal betrokke by Ligstad nie net ontvang het nie, maar ook gegee het.

Die God is Groot (GiG) groep bejaardes, wat Vrydaeoggende om 10:00 by Ligstad vergader, was die voorbeeld vir almal toe hulle besluit het om as ’n groep hul gunsteling lekkernye te bring waarna die groep gesellig saam lekkergoedpakkies opgemaak het. Die pakkies is vir mekaar oorhandig tydens die Kersfunksie op 27 November.

Verder het elke lid ook ’n dis saamgebring wat deel geword het van ’n heerlike Kersmaaltyd nadat daar Kersliedere gesing is onder begeleiding van Marie Hammond op die klavier in die kerk.

Die Ligjare Bybelstudiegroep kon dieselfde middag met die silwer-geldjies wat hulle weekliks deur die jaar getrou saamgebring het na hul Dinsdagoggend byeenkomste toe, bymekaar kom by Reading Country Club waar hulle ’n geseënde jaar afgesluit het met ’n feesmaal geskik vir konings en koninginne.

Laaste maar beslis nie die minste nie, was dit die beurt van die Ligstad Naskoolsentrum om met ’n groot bederf ’n opwindende 2015 af te sluit op Dinsdag, 1 Desember. Danksy Willie Croeser sowel as Willemien Coleman van Johnny’s Caterers en haar span, het die kinders, personeel, vrywilligers en direkteure van Ligstad heerlik weggelê aan ’n maaltyd wat nog lank deur almal onthou gaan word.

Daarna het elke kind ook ’n Kersgeskenk ontvang, geskenk deur lidmate van die NG Gemeente Alberton-Wes wie wenslysies getrek het en uit hul pad gegaan het om kinderharte bly te maak. Die opgewondenheid kon kwalik beteuel word en die uitbundige vreugde van die kinders nadat hulle hul pakkies oopgemaak het, kan nie beskryf word aan enige persoon wat nie daar was om dit te beleef nie.

Alida Jooste, maatskaplike werkster van Ligstad, sê baie dankie aan elke maatskappy, groep en individu wat met hulle oop harte en hande ’n verskil gemaak het in die gemeenskap van Alberton-Noord. Ligstad wens Alberton ’n baie geseënde Kersgety en daar word saam uitgesien na ’n 2016 vol nuwe verwikkelinge en planne om van Alberton-Noord ’n gemaklike tuiste vir almal te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button