Local newsNews

Rooi, rooier, rooiste maan

’n Amateurfotograaf en oud-inwoner van Alberton het sy passie vir foto’s neem gebruik om die seldsame bloedmaan af te neem.

ALBERTON- Vir Jacques van der Linden (35) en heelwat ander mense het Maandag, 28 September, ’n bietjie vroeër as gewoonlik begin.

Met sy Nikon D90 kamera reg vir aksie en sy kampstoel reeds opgeslaan het hy homself net na 02:00 uit die kooi gedwing om ’n gebeurtenis wat 33 jaar laas plaasgevind het, met sy kamera vas te vang.

“Ek het opgestaan en op my kampstoel op die stoep gaan sit, want dit was ’n geleentheid wat ek nie wou mis nie,” het die oud-Alberton inwoner tydens ’n onderhoud by News Café in Roodepoort gesê.

Dit was immers die super-bloedmaan, ’n seldsame natuurverskynsel, wat hy met sy kamera wou afneem.

AGTER DIE KAMERA: Jacques van der Linden, 'n amateur fotograaf, hou graag daarvan om in sy vrye tyd foto's te neem.
AGTER DIE KAMERA: Jacques van der Linden, ‘n amateur fotograaf, hou graag daarvan om in sy vrye tyd foto’s te neem.

“Ek is maar ook met die maan gepla, ek het al voorheen heelwat foto’s van die maan geneem,” het Jacques verduidelik.

Jacques, ’n konstruksieplan tekenaar vir ’n bekende kitskosrestaurant, het gesê fotografie is iets wat hy as ’n stokperdjie doen wanneer sy vrou, Laetitia (30), en sy seun, Xander (5), nie sy aandag verg nie.

Lees gerus: Supermoon eclipse: pics from South Africa

“Hulle het natuurlik nie in die oggendure saam met my gesit om na hierdie natuurverskynsel te kyk nie,” het hy laggend gesê.

As ’n amateurfotograaf geniet hy dit om foto’s van die sonsopkoms, landskappe en motors vas te vang.

SUPER-BLOEDMAAN: Die seldsame super-bloedmaan wat deur Jacques van der Linden met sy kamera geneem is. Foto: Jacques van der Linden/ Crazy J Photography
SUPER-BLOEDMAAN: Die seldsame super-bloedmaan wat deur Jacques van der Linden met sy kamera geneem is. Foto: Jacques van der Linden/ Crazy J Photography

“Wanneer ek die geleentheid kry om foto’s te neem, dan gebruik ek dit. As ek op die pad is en iets sien wat my aandag trek, dan sal ek gou stop en dit afneem.”

Jacques, wat geen fotografiese opleiding het nie en dit wat hy weet van fotografie self geleer het, geniet dit ook om sy eie foto’s op die rekenaar te redigeer.

“Ek kyk op sosiale media platforms of op die internet as ek nie seker is van ’n tegniek nie. Dit is ook hoe ek meer leer oor hoe om my kamera tot die beste van my vermoë te gebruik.”

Volgens Noah Petro, adjunk-projekwetenskaplike vir die Lunar Reconnaissance Orbiter by Nasa se Goddard-ruimtevlugsentrum in die Verenigde State van Amerika (VSA) het die gepaardgaande maansverduistering die supermaan sy rooi kleur gegee.

’n Maansverduistering vind plaas wanneer die aarde tussen die son en die maan inbeweeg. Die aarde se atmosfeer buig die son se lig sodanig dat van die lig tog die maan se oppervlak bereik en dit wat deurkom is rooi lig.

Die volgende soortgelyke maansverduistering sal na alle waarskynlikheid eers weer in 2033 voorkom.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button