Local NewsLocal newsNews

RECORD stel die feite reg oor Marais Viljoen-matriekafskeid

Die RECORD het gister ’n artikel oor die jaarlikse matriekafskeid geplaas waarvan sekere feite nie reg was nie en vra om verskoning aan Marais Viljoen vir enige ongerief wat daaruit gespruit het.

“Om kinders te verneder omdat die skool die ouers wil bykom, is nie vir my reg nie.”

Só het ’n ouer van Hoërskool Marais Viljoen gesê nadat haar dogter glo nie na die matriekafskeid, wat nog gehou moet word, uitgenooi is nie.

Sy het gesê briewe, waarvan die RECORD ’n afskrif het, is tydens die rekordeksamen aan uitgesoekte leerders uitgedeel om hulle te verwittig dat hulle nie ’n uitnodiging na die matriekafskeid ontvang nie omdat hulle nie aan een van vier vereistes voldoen nie.

“Dié kinders is voor die ander graad 12-leerders verneder toe daar vir hulle gesê is dat hulle nie uitnodigings ontvang nie en daarom die saal moet verlaat sodat daar met die leerders, wat wel uitnodigings ontvang het, gesels kan word.”

Sy het gesê haar dogter het direk daarna by haar suster se motor aangekom en tranerig die hele gebeurtenis aan haar oorvertel. Volgens haar moes leerders opstaan, die brief ontvang en die saal verlaat.

Martie Heystek, skoolhoof van Hoërskool Marais Viljoen, het by navraag gesê dat leerders glad nie verneder was nie.  Daar was nêrens melding van skoolfonds aan leerders gemaak nie.

“Die graad 12-leerders het nadat hulle hul tweede Wiskunde-vraestel in die saal en gimnasiumsaal geskryf het, ’n briefie in ’n koevert ontvang. Hierin is skriftelik aangedui dat hulle nie aan een of meer van die 4 vereistes voldoen nie en dus nie dadelik ’n uitnodiging kan kry vir die matriekafskeid nie. Hulle moes gaan uitvind waaraan hulle nie voldoen nie.

Die vereistes waaraan daar voldoen moet word is:
• Hul praktiese assesseringstake en skoolgebaseerde asseserings moet ingehandig wees. Hierdie take tel ook ’n sekere persentasie van hulle finale punt vir die betrokke vak in die finale eksamen.
• Leerders se strafpunte moet minder as 50 punte wees.
• Daar moenie enige agterstallige matriekafskeidgelde wees nie.  Skoolfonds moet nie agterstallig wees nie, of ‘n reëling vir die agterstallige geld moes getref wees.

Volgens Heystek moes die leerders wat briewe ontvang het, gaan uitvind watter een van die genoemde vereistes hulle aan moet werk voordat hulle wel ’n uitnodiging kan ontvang en selfs leerders wie se skoolfonds nie op datum was nie, het ’n verseëlde koevert met ’n brief aan hul ouers ontvang.

“Ek wil egter net byvoeg dat, aangesien die aanklag oor die skoolfonds is, dat hierdie ouers reeds in die begin van hul kinders se graad 11-jaar daarop gewys is dat hul skoolfonds agterstallig is. Hulle is daarna op minstens vyf verskillende maniere ingelig dat hulle skoolfonds op datum gebring moet word, of dat daar ’n reëling getref moet word, alvorens ’n matriekafskeid uitnodiging oorhandig sal word.”

Die ouer het gesê daar is ander matrieks wat uitnodigings ontvang het omdat hulle ouers bevoorreg is om hulle skoolgelde op datum te hê.

“Ek is een van die ouers wat nie so bevoorreg is nie omdat my gewese man, nie my kind se skoolgelde betaal nie. Op een of ander manier gaan die skool tog hulle gelde kry en dan is my kind steeds ’n matriekafskeid kwyt.”

Heystek het gesê daar is steeds tyd vir enige matrikulant om ’n matriekuitnodiging te kry omdat die matriekafskeid eers op 16 Oktober plaasvind.

Sy het voorts genoem dat sommige ouers wel kom betaal het of ’n reëling met die skool getref het terwyl ander ouers die kennisgewings om te betaal bloot geïgnoreer het.

“Dit is nie net skoolfonds wat ’n maand of twee agter is nie, in sommige gevalle is dit skoolfonds wat reeds ’n jaar of meer agter is. Ouers wat finansieël sukkel kan met die skool gesels oor subsidie of opsies om die skoolgeld af te betaal. ”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button