EntertainmentLifestyle

Alberton se eie liedjieboer

Alberton is deel van my vormingsjare, dis waar ek mens geword het en begin droom het. Ek is nogal sentimenteel oor die plek.

ALBERTON-Op 12-jarige ouderdom skryf Dewald Wasserfall sy eerste liedjie toe hy nog ‘n leerling van Laerskool Randhart was.

“Alberton is deel van my vormingsjare, dis waar ek mens geword het en begin droom het. Ek is nogal sentimenteel oor die plek. Ek het baie slegte herrineringe maar ook baie goeies,” erken hy.

“My ma, Gretha, is aan kanker oorlede toe ek 16 was, en ek moes baie vinnig volwasse word. Dit het my ook geleer om meer respek vir ander mense te hê. Die liedjie 17 is ‘n direkte uitvloeisel van die tydperk in my lewe.”

Op 16 ontdek Dewald ‘n boek in die Alberton biblioteek oor die liedjieskryfkuns. Gevul met hoop vir die toekoms wys hy die boek vir sy band, maar almal lag lekker vir die dromer.

Hy onthou ook die jare toe hy in die jeugorkes by die AGS Meyersdal gespeel het en sy passie verder ontwikkel het.

Voor haar dood ondersteun sy ma hom heelhartig in sy musiekdroom, en mettertyd aanvaar sy pa dit ook.. “My pa wou graag hê ek moet dokter word, maar ná my ma se dood wou ek nie weer die binnekant van ‘n hospitaal sien nie.”

In 2003 matrikuleer hy aan Marais Viljoen en studeer vermaaklikheidstegnologie by die destydse Pretoria Technikon en spesialiseer in beligting..

Deur die jare bou hy ‘n goeie netwerk op in die bedryf en vandag skryf hy en Johan Vorster die oorspronklike liedjies op elke album.

In April 2013 wen hy die gesogte Beste Nuwelinge toekenning by die Ghoema Afrikaanse Musiektoekennings, en word genomineer vir nie minder as drie Huisgenoot Tempo toekennings nie: Beste Nuweling, Best Kontemporêre Album en Beste Musiekvideo.

Twee hoogtepunte van sy loopbaan sover is die Afrikaans is Groot konserte en Innibos Kunstefees, waar hy die geleentheid het om saam met ander kunstenaars voor groot gehore op te tree.

Hy bewonder Elvis Blue en Emo Adams. “Hulle werk verskriklik hard en het baie talent. Hulle verdien wat na hulle kant toe kom.”

Dewald en sy vrou Anél geniet dit om te reis en in sy vrye tyd beplan en reël Dewald al hulle reisbesonderhede. Hy is baie dankbaar dat musiek hom die vryheid en vermoê bied om die planeet te beleef.

Oor sy musiek sê Dewald: “Sing en liedjieskryf is hoekom ek op die planeet gesit is. Ek wou dit nog altyd doen. Dit maak my baie bly as ek hoor dat ‘n song iemand se lewe verander het of aangeraak het. Ek word snags wakker met rympies in my kop, en dan staan ek op om dit neer te skryf. Moenie dat mense jou terughou nie, volg jou droom en dit wat in jou hart is.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button