Local newsSport

Alberton Boksklub beplan groot ‘n makietie in 2024

Alle Albertonners regoor Suid-Afrika wat oor die jare gehelp het om die amateur boksklub 'n krag in Suid-Afrika te maak, word genooi na 'n groot makietie in Mei volgende jaar om die klub se 85ste bestaansjaar te vier.

Die legendariese skeidsregter Jaap van Nieuwenhuizen staan aan die stuur van die reëlings en sê hulle beplan om die byeenkoms gedenkwaardig te maak.

Die Alberton Boksklub is op 26 Mei 1939 gestig en is die naas-oudste Suid-Afrikaanse klub, na Booysens, wat al 95 jaar lank bestaan.

Van Nieuwenhuizen, wat saam met Stan Christodoulou en Eddie Marshall Suid-Afrika se mees ervare skeidsregters en beoordelaars is, sê talle groot geeste in Suid-Afrikaanse boks het oor die jare deur Alberton Boksklub se deure gestap.

Die klub is geleë in 2de laan Alberton en word in die Barry Vorstersaal by die sportsentrum bedryf.

Van Niewenhuizen het in 1979 by amateurboks betrokke geraak en in 1988 sy debuut in die beroepskryt gemaak.

Hy sê daar was talle hoogtepunte in sy roemryke loopbaan, maar die grootste is waarskynlik toe hy op 15 November 1997 by die Carousel by Hammanskraal ‘n beoordelaar was vir die geveg tussen die legendariese Roberto Duran en David Radford. Duran het die geveg eenparig met punte gewen.

Oor die jare was hy ook die skeidsregter in verskeie Transvaal-, Gauteng-, Suid-Afrikaanse, Afrika- en wêreldtitelgevegte.

Charlemagne Sam het Albertson se eerste Springbok geword toe hy Suid-Afrika in 1958 by die Statebondspele in Wallis verteenwoordig het.

In 1966 het Stephen van Graan ook die Springbokfrokkie oor die kop getrek.

Die klub se eerste beroepskampioen was Happy Pieterse wat as ligswaargewig deur die toue geklim het.
Na hom het Barney Buys, Koos Strydom en Chrisopher Denicker gevolg. Denicker het vir ‘n wêreldtitel geboks, maar kon nie as wenner uit die kryt klim nie.

Ander bekende boksers oor die jare wat Alberton se vlag hoog laat wapper het, sluit in verskeie pare broers – die Breytenbachs, Bekkers, die Strydoms, Van Nieuwenhuizens, Claassens, Engelbrechts, die Cloetes, Koks en die Meintjies’e.

Talle afrigters het ook oor die jare hulle merk gemaak. Onder hulle was Barry Vorster, Albert Flynn, Dirk Smit, Hennie Smit, Dick de Beer, André Lambrecht, Theuns Engelbrecht, Theuns Laubsher, Koos Cloete, Hannes Kok en Gert de Klerk.

Nieuwehuizen se seun, David, sit die familie se ryk tradisie voort deurdat hy ook ‘n professionele skeidsregter en beoordelaar is.

Kontak van Nieuwenhuizen Snr by 081 511 7957 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button