Local newsNews

Huldeblyk aan Chris Botha van Laerskool Theo Wassenaar

Gemeenskap neem afskeid van ‘n formidabele man wat diep spore in die harte van leerders, onderwysers en ouers in die suide van Johannesburg getrap het.

Christiaan Stefanus Havemann Botha is op 13 Februarie 1941 in Vereeniging gebore en op 3 September in die ouderdom van 82 jaar en sewe maande oorlede.

Botha het Graad Een in 1947 aan Laerskool Hlobane in Zululand begin.

Sy hoërskoolloopbaan was aan die Hoërskool Dundee (Natal) waar hy in 1959 gematrikuleer het. Uitsonderlike skoolprestasies wat hy behaal het was prefek in sy matriekjaar, offissier in die kadetafdeling en ʼn lid van eerste atletiekspan. Hy het ook Natal erekleure vir swem (medley) verwerf en was kaptein van die skool se swemspan.

Hy het van 1960 tot 1963 aan die Heidelberg Onderwyskollege (HOK) studeer en in 1963 sy Tranvaalse Onderwys Diploma behaal met lewensoriëntering en wetenskap as spesialis vakke. Tydens sy studentejare was hy kaptein van die swemspan en het erekleure vir swem verwerf. Hy het o20A rugby gespeel en was betrokke by die kollege se langafstand atletiekspan.

Hy het in 1962 op die huiskomitee gedien en in 1963 as primaria van die Uitsig koshuis aangestel.

Hy en Louise Lombaard het op 12 Oktober 1968 vanuit die NG Kerk Johannesburg-Suid in die huwelik getree. Uit die huwelik is vier kinders gebore naamlik Christian, Celia, Antoinette en Johan.

Die onderwyser

Botha se onderwysloopbaan het in 1964 by Laerskool Theo Wassenaar begin. As ‘n jong onderwyser was hy vakhoof van Afrikaans en ook afrigter van atletiek, rugby, swem en die kunswedstryd.

Hy was betrokke by die aanbieding en afrigting van gimnastiekvertonings. Hy was ook sekretaris van die atletiekvereniging van die suidelike voorstede van Johannesburg.

Chris is in 1972 bevorder tot adjunkhoof by Laerskool Theo Wassenaar.

Gedurende dié jaar was hy die voorsitter van die Junior Rapportryerskorps en het op die besture van verskeie kultuurorganisasies gedien.

Hy het ook as referent by die Transvaalse Onderwys Departement streekskursusse opgetree. Hy was tot voorsitter van Laerskole Atletiek vir Johannesburg-Suid verkies, asook as visie-president van die Transvaalse laerskole rugby en as sameroeper van die Cruywenweek keurkomitee.

Hy het ook geld begin insamel vir die aankoop van ‘n nuwe Mecedes bus vir die skool en in 1973 het die rugbytoer met dié nuwe skoolbus na ou Rhodesië plaasgevind.

Dit was ook die jaar van die inhuldiging van Dr Theo Wassenaar borsbeeld.
Tydens 1975 neem hy waar as hoof by Laerskool Theo Wassenaar en in 1976 word hy as skoolhoof aangestel.

Verdere opleiding

Hy het in In 1980 hy sy Hoër Onderwysdiploma met die spesialisvakke van lewensoriëntering en remediërende onderwys aan die Goudstadse Onderwys Kollege verwerf en in 1988 sy BA Graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) met die hoofvakke van opvoedkunde en geskiedenis.

Hy het in 1991 sy BEd Graad in Onderwysbestuur aan UNISA verwerf.

Betrokkenheid by Wassies as hoof

As skoolhoof was hy baie betrokke by Wassies en het verskeie Wassie kermisse gereël, asook die hengelkompetisies by die Orlando Dam en rugby- en netbaltoere na Laerskool Port Natal in Durban.

Die skool groei in 1976 van PII status na PI status en in 1978 was die skool se 25ste jaar feesviering en bou van die busdepot gevier asook die inwyding van die Bloemgebou.

‘n Tweede hulpklas word onder sy leiding in 1976 begin. Dit was ‘n jaar met verskeie ander gebeurtelikhede onder sy leiding soos die lenteloop, operette en die eerste Wassie Minimarathon.

Ander gebeurlikehede wat genoem kan word is die skool se 30-jarige feesviering en die rugbytoer na Suid-Amerika, mobiele klaskamers, installering van ‘n boorgat en ‘n rugby toerspan van Argentinië wat die skool besoek het.

Na die nasionale verkiesing van 1991 word Laerskool Theo Wassenaar geklasifisieer as Model B skool en in 1992 word die skool ‘n Model C skool.

Tot en met sy aftrede sien die skool ook onder sy leiding die jaarlikse gholfkompetiesie, die bou van die wetenskap laboratorium, kunsklasse en twee nuwe klaskamers en die inrigting van ‘n rekenaarsentrum, opgradering van die snoepie en die bou van ‘n swembadpawiljoen.

Verskie rugby- en netbaltoere het ook plaasgevind en in 1993 en 1994 het Botha opgetree as ‘n groepleier opgetree tydens simposium vir nuut aangestelde skoolhoofde in Pretoria.

Hy het in 2001 afgetree.

Na aftrede

Na sy aftrede begin hy by sy oudste seun se onderneming, Research Solutions in Alrode werk. Daarna het hulle na Klapmuts, net buite Paarl verhuis en in 2014 verhuis hulle na Langebaan aan die Weskus.

Totsiens en vaarwel

“Hier by Wassies het meneer vir 37 lang jare geswoeg en gesweet. Dit is met seer harte en baie mooi herinneringe wat ons afskeid neem van ‘n formidabele man wat diep spore in die harte van leerders, onderwysers en ouers in die suide van Johannesburg getrap het.

“Rus in Vrede Meneer Botha, ons gaan u mis. U het ons geleer – eenmaal ‘n Wassie, altyd ‘n Wassie!”

Related Articles

Back to top button