EntertainmentLifestyle

Kom kuier by Ligstad op Klipkoppiefees

In die tent, wat Ligstad se Kindertuin gedoop is, sal ‘n verskeidenheid van aktiwiteite aangebied word om elke kind se belangstelling te prikkel.

MEYERPLAAS – Ligstad is hierdie naweek (30 en 31 Mei) aktief betrokke by vanjaar se Klipkoppiefees op die Meyerplaas. Verlede jaar het hulle ‘n klein stalletjie gehad waar hulle Ligstad se werksaamhede bemark het.

Die Klipkoppiefeeskommitee het hulle hierdie jaar genader om die kindertent te hanteer wat voorheen deur lidmate van die NG Gemeente Alberton-Wes hanteer is. Fondse wat by die kindertent ingesamel word, sal aangewend word vir die werksaamhede van Ligstad en hulle sodoende in staat stel om voort te gaan met die kwaliteit gemeenskapsdienste wat in Alberton-Noord gelewer word.

In die tent, wat Ligstad se Kindertuin gedoop is, sal ‘n verskeidenheid van aktiwiteite aangebied word om elke kind se belangstelling te prikkel en die ouers die geleentheid te gee om hulle kinders in die veilige hande van die vrywilligers te laat terwyl hulle alles kan gaan geniet wat die fees bied.

‘n Paar beoogde aktiwiteite om die kinders mee te terg is die volgende:

* Kralekuns aktiwiteit en dies meer om ywerige handjies besig te hou.

* Enkel-in-hul-soort lekkergoedpakkies wat verkoop gaan word met ‘n klompie verrassings daarin.

* Ons dogtertjies kan kom vir ’n kinder-manikuur en met ‘n pragtige stel geverfde vingernaels gaan spog.

* As gekleurde hare jou ding is, kan jy jou hare in enige kleure van die reënboog laat spuitverf.

* “Lucky Dip” waar oulike speelgoed gewen kan word.

* As Ligstad so gelukkig is dat iemand vir hulle elektroniese speletjies saam met ‘n skerm en ‘n “playstation” vir die naweek kan leen, word daar beoog om ‘n speletjies-arkade in ‘n deel van die tent in te rig. Tans het Ligstad egter nog nie reggekom daarmee nie. Indien u kan help of weet van iemand wat hiermee kan help vir Alida Jooste skakel by 079 693 3666.

Daar gaan ook ‘n replika van die naskoolsentrum opgerig word waar nuuskieriges kan kyk hoe die naskool funksioneer en uitvind hoe hulle betrokke kan raak.

Ligstad se personeel en vrywilligers sien uit daarna om u te ontmoet by die jaar se Klipkoppiefees en hopelik vriendskappe te sluit met die gemeenskap wat ons bedien.

Vir meer inligting kontak Alida Jooste 079 693 3666.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button