Local newsNews

KYK: Corrie Wijnbeek vier 108 jaar

Corrie Wijnbeek het op 18 Februarie haar 108ste verjaardag gevier.

“So ’n mylpaal is buitengewoon en net so buitegewoon is my ma,” het Beatrix van der Walt, haar dogter, gesê.

Corrie tel twee wêreldoorloë en ’n landsverhuising as deel van haar geskiedenis.

“Sy het besondere dapperheid aan die dag gelê deur vier kinders te versorg te midde van die ergste hongersnood denkbaar en ’n seuntjie aan die dood afgestaan terwyl pa militêre diens moes lewer.”

Corrie het in haar nuwe tuisland verder diep spore getrap. Sy woon tans by haar jongste seun, ds Dirk Wijnbeek, in Swartruggens.

“Menige afstammeling en vriendin kan vandag spog met ’n pragtige handgeborduurde tafeldoek wat sy gemaak het,” het Beatrix gesê.

“Ten spyte van groot hartseer tydens die wreedaardige moord op haar jongste dogter, Yvonne, en die afsterwe van haar oudste seun, Marinus, in Nederland bly sy die blymoedige voorbeeld vir elkeen om haar.

“Vandag is sy die trotse stammoeder van twee kinders, 14 kleinkinders, 29 agterkleinkinders en drie agter-agterkleinkinders, om nie eens van die aangetroudes te praat nie. Voorwaar besondere seën van die Here.”

President Cyril Ramaphosa het haar per brief haar geluk gewens met haar verjaarsdag. Sy woorde aan haar lui:

LEES: Letter to Mrs Wijnbeek 108th Birthday Message

“It is with great pride and admiration that I wish you, on behalf of the government and people of South Africa, a very blessed, fulfilling and special birthday as you attain 108 years. I sincerely hope your special day fills you with great happiness and contentment.”

Related Articles

Back to top button