Local newsNews

KYK: Albertonners rou oor Sydney

Inwoners rou oor skielike afsterwe van bekende inwoner en rugbyspeler Sydney Spamers.

Die gemeenskap se harte is seer oor die skielike afsterwe van die bekende inwoner Sydney Spamers.

Sydney (62) is op 10 Januarie weens Covid-19 komplikasies oorlede.

Volgens sy vrou Elmarie het hy sinusitus simptome getoon en binne ‘n kwessie van ‘n dag gesterf.

Sydney se roudiens het op 29 Januarie by die Alberton Methodist Kerk plaasgevind en die diens was deur Ds Herman Coetzer van die Alberton LewenSentrum waargeneem.

“Ek het sowat drie weke terug positief vir Covid-19 getoets en moes onder self-isolasie gaan. Dit is een van die hoofredes hoekom die diens so laat na sy afsterwe gehou word,” het Elmarie vertel.

Bekende en behulpsame inwoner

Sydney was baie bekend onder Albertonners. Hy was vir jare een van die koordineerders en patroleerders van AfriForum se Alberton-tak en voor dit was hy ook deel van die Alberton GPF.

“My man sou enige iets vir sy gemeenskap gedoen het. Hy het altyd gehelp waar hy kan. As iemand se kar langs die pad gebreek het, het hy gestop en gehelp.”

Baie lede van plaaslike sekuriteitsmaatskappye het geweet wie Sydney was omdat hy altyd hand-aan-hand saam met hulle gewerk het. “Waar daar vir hulp gevra was, was Sydney. Hy was altyd orals en hy het vreesloos gelewe en was nooit bang om iewers ‘n hand by te sit nie.”

‘n Rugby legende

Baie sal hom ook onthou as hulle rugby afrigter of die kranige rugbyspeler van Alberton.

“My man was ‘n ware WP-ondersteuner en waar daar sport was, was hy,” het Elmarie vertel.

Hy was onder andere voorsitter van die Alberton Junior Rugbyklub en die Junior Goue Leeus. Hy was ‘n provinsiale rugbyspeler en het as haker gespeel.

In die verlede het Sydney vir die eerste spanne van Alberton en die Vaaldriehoek rugby gespeel tot in sy vroeë 40’s. Hy het van kindsbeen af ‘n liefde vir rugby gehad.

Sydney het ook rugbyspanne by talle skole, veral by Alberton High School, afgerig en ook by die Alberton Rugbyklub.

“Wanneer ek saam Sydney inkopies gedoen het, was daar altyd iemand wat jy gehoor sê het: ‘Hello coach’. As hy nie rugby geoefen of afgerig het nie, het hy tyd in die gimnasium deurgebring.”

In sy vrye tyd het hy daarvan gehou om fiets te ry en om te kuier.

“Sy sê-ding was altyd exercise hard, but party harder.”

Hy laat ‘n groot leemte

Sydney en Elmarie het aan die einde van 1999 ontmoet en is in 2006 getroud. Hy het ‘n seun en ‘n dogter van sy eie en hy het ook Elmarie se twee seuns as sy eie grootgemaak. Die egpaar het ook ses kleinkinders.

“Sydney was die beste pa en oupa vir sy kinders en kleinkinders.”

Elmarie beskryf haar man as iemand wat onselfsugtig, behulpsaam, sagmoedig, vriendelik, liefdevol, lewenslustig, vrywillig en regverdig was.

Sy het vertel dat hy ‘n man met ‘n hart van goud was. “Hy het geen vrese in die lewe gehad nie. Tyd het hom nie gepla nie en hy het regtig voluit gelewe.”

Volgens ‘n familie-vriendin het kinders ‘n groot liefde vir Sydney gehad.

Hy laat sy vrou, kinders, kleinkinders, broer en twee susters na.

Baie dankie

Elmarie wil graag Ashley Thomas (traumaberader van die Unie Hospitaal), dokters en verpleegsters, Armand van CPS Security, en ER24 nooddienste vir hulle hulp en bystand, bedank.

“Dankie aan die lede van AfriForum, Alberton Rugby Klub en Sydney se werkgewers van Allied Steel Rode vir hul bystand. Ook dankie aan al ons vriende en familie vir julle ondersteuning in hierdie tyd,” het Elmarie gesê.

Sydney Spamers op sy troudag in 2006.
Sydney Spamers is skielik op 10 Januarie oorlede.
Sydney Spamers was vir jare ‘n afrigter en voorsitter by die Alberton Junior Rugbyklub.
Sydney Spamers saam met sy vrou Elmarie.
Sydney Spamers gaan gemis word.
Rus in vrede Sydney Spamers.

Related Articles

Back to top button