EntertainmentLifestyle

Trotse Suid-Afrikaanse filmmakers Lok Hollywood na Suid-Afrika!

Een ding waaraan Henk Pretorius van Dark Matter Studios glo is die beginsel dat jy jouself eers in jou eie land se vermaaklikheidsbedryf moet bewys voordat jy dit op enige ander plek in die wêreld waag.

Hierdie belowende filmmaker het in Maart 2014 twee SAFTA nominasies ontvang: een as beste regisseur en een as medeskrywer van die rolprent, Fanie Fourie’s Lobola. Die toekenningsgeleentheid vind op 4 en 5 April 2014 plaas.

Pretorius het in 2011 sy stem dik gemaak in die internasionale rolprentarena met sy regie van Fanie Fourie’s Lobola – soos reeds aangedui, was hy ook die medeskrywer. Die fliek is in 2013 by drie verskillende feeste, onder andere die belangrike Seattle Rolprentfees, aangewys as die gehoor se gunsteling. Die fliek het ook die toekenning as die beste komedie by die 2013 Sedona Rolprentfees in Arizona verower.

Pretorius is reeds 10 jaar lank besig om flieks vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf te maak en hy was die skrywer en regisseur van die suksesvolle Bakgat 1 & 2 reeks. Pretorius se talent is ondermeer deur die Mail & Guardian raakgesien, en die publikasie het hom ingesluit in die lys van 200 mees inspirerende jong Suid-Afrikaners van 2013. Nou stel Pretorius sy visier op Hollywood met sy nuutste rolprent, Leading Lady.

Met hierdie projek span Pretorius kragte saam met die Suid-Afrikaansgebore sakeman, Llewelynn Greeff. Die twee is mede-eienaars van die suksesvolle produksiemaatskappy Dark Matter Studios met kantore in Suid-Afrika en Brittanje. Greeff het aan die Oxford Brookes-Universiteit gegradueer en verdeel sy tyd tussen Suid-Afrika en Londen waar hy voortdurend op soek is na nuwe geleenthede.

In 2013 het Greeff vir Pretorius aangemoedig om na Los Angeles te gaan en daar talent te soek vir Dark Matter Studios se internasionale vlagskip-projek, Leading Lady, ’n liefdesverhaal wat op twee kontinente afspeel. Na ’n soektog van ses weke tussen agente, studios en akteurs was Pretorius uiteindelik oortuig dat hy die regte span vir hierdie projek bymekaar gemaak het. Tans word daar gewerk aan die naproduksie-fase van die fliek en binnekort word dit internasionaal vrygestel. Die fliek spog met plaaslike sterre soos Bok van Blerk en Brümilda van Rensburg. Hulle kry die kans om die kollig te deel met internasionale sterre soos die Ierse aktrise, Katie McGrath (Dracula, Merlin), en die Hollywoodse akteur, Gil Bellows (Ally McBeal, Shawshank Redemption).

Leading Lady vertel die verhaal van ’n jong opkomende Britse aktrise, Jodi Rutherford, wat Kobus Willemse, ’n boer van Brandfort, oorreed om haar te help om voor te berei vir die uitdagende rol as ’n Afrikaanse oorlogsheldin in ’n Hollywoodse rolprent. In ruil daarvoor kry sy die geleentheid om die jaarlikse konsert op Willemse se plaas te reël en die regie te behartig. Jodi se interaksie met die bekoorlike dorpie Brandfort en sy inwoners, asook die hardekwas Kobus, leer haar dat daar meer is in die lewe as bloot net Hollywood met sy ligte, kameras en aksie! …Of is daar?

Nadat Katie McGrath die draaiboek van Leading Lady gelees het, het sy dadelik ingestem om teenoor Bok van Blerk in die fliek te speel. Almal het hierdie nuus verwelkom want dis maar net nog ’n bewys dat die plaaslike mark geen tree hoef terug te staan vir Hollywood nie. Wat dit nog meer opwindend maak, is dat hierdie talentvolle aktrise onlangs teenoor Jonathan Reese Meyers in Dracula gespeel het.

Leading Lady tref die plaaslike silwerdoek op 28 November 2014. Verspreiding vind plaas deur Ster Kinekor Entertainment. Die voorsmakie lokprent vir hierdie fliek word op Vrydag, 28 Maart 2014 vrygestel.

Om meer uit te vind gaan na

Webblad: www.leadingladymovie.com
Facebook: https://www.facebook.com/filmleadinglady
Twitter: @filmleadinglady / Hashtag: #arriving28Nov

Kontakbesonderhede Dark Matter Studios

Webblad: www.dmstudios.co.za
Facebook: https://www.facebook.com/pages/Dark-Matter-Studios/459420337414367
Twitter: @dmstudiosSA

PR & Bemarking

Starburst Promotions / Alishia van Deventer
Sel:  083 635 4717 / Epos:  alishia@starburstmusic.co.za

Related Articles

Back to top button