Local newsNews

KYK: Paul Potgieter maak musiek by Alberton Damesklub

Hy het die gehoor weereens met sy meesterlike musiek-vaardighede stomgeslaan.

PAUL Potgieter, ’n wêreldklas musikant met ’n ellelange lys van musiek-verwante kwalifikasies en prestasies van regoor die wêreld, het die Damesklub op 14 Junie in bewondering gelaat met sy vertoning.

Die Damesklub vergadering het begin met voorsitter Martie Marnewick se opening en mooi gebed. Sy deel met die dames nuus oor lief en leed en kondig aan dat twee nuwe lede by die klub aangesluit het.

Die verjaarsdagdames is toe aangekondig en ’n mooi Bybelvers en gebed is aan hulle voorgelees voordat elkeen ’n geskenkie ontvang het.

Toe is Paul aan die dames bekendgestel. Sommige dames het hom reeds ontmoet by die Brackenhurst VLU vergadering van verlede November toe hy ’n wonderlike optrede gedoen het onder die tema “Internasionaal”, met 13 verskillende instrumente.

By die Damesklub vergadering het Paul die gehoor weereens stomgeslaan met sy meesterlike musiekvaardighede. Dit was ’n musikale toer deur tyd en om die wêreld.

Hy het talle verskillende blaasinstrumente gespeel wat panfluit (wat hy self gemaak het), blokfluit, dwarsfluit, konsertina en harmonika insluit, onder andere. Hy het menigte tradisionele instrumente van verskillende kulture, lande en eras gespeel.

Tussendeur elke liedjie het hy eers ’n bietjie agtergrond oor die skepper van die liedjie, asook die kultuur en era waarvandaan dit kom, gegee. Paul het beslis sy feite geken en het almal verstom met sy wye kennis van musiek, kultuur en die invloed wat musiek deur die eeue oor die wêreld gehad het.

Die indrukwekkendste stuk wat Paul opgevoer het, was ’n lang lied wat hy die Karnavaal van Venisië noem. Vir hierdie lang lied het hy sy hele verskeidenheid instrumente gebruik. Dit was ’n pragtige opvoering wat almal meegevoer het.

Nadat Paul opgetree het, het Martie Marnewick hom hartlik vir sy moeite en passievolle opvoering bedank.

Kliek hier om na die Paul se pragtige musiek te luister:

https://www.facebook.com/albertonrekord/videos/2136473683091849/.

Dis toe tyd vir almal om op te skep en ’n heerlike middagete saam te geniet. Só sluit nog ’n Damesklub vergadering op ’n vrolike (musiek)noot af.

Die volgende vergadering sal op 2 Augustus plaasvind, weereens by die Alberton Aftree-Oord om 10vm. Indien jy by die groep wil aansluit, of die volgende vergadering wil bywoon, skakel gerus vir Dini Jansen op 082 552 4683 of vir Trix van der Walt op 083 449 5446.

READ:

Blommeklub vergadering

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button