Local newsNews

Kosie Wiese vier sy 70ste verjaarsdag

Kosie Wiese, beroemde weltergewig, het sy 70ste verjaarsdag gevier.

BEROEMDE weltergewig bokser en afrigter Kosie Wiese het sy 70ste verjaarsdag saam met vriende en familie op 19 Mei gevier. Tydens die geleentheid het ou vriende en bokskennisse met groot lof gepraat oor beide Kosie se boksvernuf en die goeie mens wat hy is.

Kosie Wiese is in 1948 in Craighall gebore en hy woon al 30 jaar in Alberton. In 1954, op die ouderdom van vyf, het Kosie as amateur bokser begin oefen. Hy het in die spore van sy ouer broers gevolg wat op daardie stadium reeds geboks het.

“Snaaks genoeg het my pa nooit geboks nie,” sê Kosie oor die oorsprong van sy liefde vir boks. Kosie het sy amateur loopbaan by die Steyn Broers amateur boksklub begin.

“Ek het meer amateur gevegte gehad as wat ek kan onthou,” vertel Kosie.

In 1968 betree Kosie die bokskryt as beroepsbokser teen die gevreesde Spider Kelly, wat later ’n Suid Afrikaanse kampioen geword het. Ten spyte daarvan dat die geveg nie in sy guns was nie, het Kosie nie teruggestaan nie en ’n goeie boksgeveg teen Kelly gehad. Later in Kosie se loopbaan het hy en Spider Kelly mekaar weer ontmoet en Kosie het die telling gelykgemaak deur dié keer met die wen weg te stap.

“As daar ’n persoon is wat ek graag weer teen sal wil boks sal dit Spider wees,” sê Kosie.

“Daai man kon slaan.”

’n Uitklophou om te onthou

Kosie se loopbaan word gekenmerk deur sy gewoonte om sy gevegte per uitklophou te wen. Volgens Kosie het hy 36 beroepsvegte gehad waarvan hy net ses verloor het. Twee van die ander gevegte het gelykop geëindig en twee het Kosie op punte gewen. Die res was alles met uitklophoue beslis, waarvan baie sommer gou in die geveg gebeur het.

“Hoekom sou mens ’n hele geveg wou klaarmaak as jy dit binne die eerste ronde kan klaarmaak?” vra Kosie met ’n glimlag.

Die geveg waarvoor Kosie Wiese egter onthou sal word was teen Garvin Crouch. Die geveg het binne 26 sekondes, insluitend die 10 telling, geëindig toe Kosie hom uitgeklop het.

Hierdie uitklophou was die vinnigste wat vir ’n lang tyd in Suid Afrika gesien was of sou word. Kosie vertel dat voor die geveg het hy ’n sny op sy oog gekry en die dokters het gesê dat hy as gevolg daarvan nie mag boks nie. Sy afrigter het egter die dokters vertel dat dit nie ’n probleem sal wees as hy nie raakgeslaan word nie. Die dokters het ingestem maar gesê dat indien dit begin bloei Kosie sou moes handoek ingooi.

Met sy afrigter se advies het Kosie die geveg begin met ’n vinnige linker-regter en Garvin het die vloer getref. Geen hou het Kosie geraak nie.

Kosie het na sy boksloopbaan by boks betrokke gebly en het verskeie SA boksers opgelei, wat Zack Mwekassa, Anton Nel en Osbourne Machimana insluit.

Op sy ouderdom skerm Kosie nogsteeds.

“Om suksesvol te wees beide in boks en die lewe is disspline die belangrikste,” sê Kosie.

“Ek het baie goeie boksers geken wat misluk het as gevolg van ’n gebrek daaran.”

Bertus Wiese, Kosie se seun, het namens sy kinders gesê dat hy ’n rolmodel vir hul almal is.

READ:

GALLERY: Hoërskool Alberton 70ste verjaardag viering

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button