Local newsNews

’n Oop hart vir almal

Nie eers in haar vrye tyd hou sy op om om te gee nie.

SELFS al het tannie Antoinette Venter nie alles nie, doen sy wat sy kan om almal rondom haar te help, hoe ook al nodig. Vandat sy ’n lid geword het van Alberton SAPS Victim Support, kan sy uiteindelik haar passie met mening uitleef.

Sy is deur Sibongile Zikalala, haar kosbare helpertjie, soos tannie Antoinette haar noem, as ’n plaaslike heldin genomineer.

Alberton Victim Support

Tannie Antoinette (70) werk in die klagtekantoor vir Victim Support vir die afgelope vier jaar. Sy sê dit is die beste vier jaar van haar lewe, want dit hou haar besig en sy help soveel mense.

Haar verhoudings met die mense wat sy daagliks sien, veral die polisielede, is vir haar kosbaar – sy sien hulle soos haar kinders.

Sy het besluit om by Victim Support aan te sluit nadat haar man Johnny in 2006 oorlede is. Hulle was vir 37 jaar getroud. Dit was vir haar belangrik om haar hart en kop besig te hou om haarself met die rouproses te help.

KLERE-VERSAMELING: Hier is ’n klein gedeelte van klere wat tannie Antoinette onlangs versamel het.

Oor tannie Antoinette

Antoinette en Johnny het in 1969 getrou. Hulle het in Bloemfontein drie dogters grootgemaak. Antoinette het onderwys in Heidelberg studeer, vir 15 jaar lank as onderwyseres by Witfield Laerskool gedien, en toe weer as onderwyseres vir nog sewe jaar by School of Achievement in Germiston gewerk.

Haar huidige werk by Victim Support behels om na baie uitroepe/misdaadstonele toe te gaan waar trauma betrokke is, en daar te wees om die slagoffer deur sy of haar trauma te help. Sy is daar om hulle kalm te hou deur enige soort misdaad wat plaasgevind het.

“My grootste droom is om te sien dat Alberton ’n veilige plek vir vrouens en kinders is wat niks het nie, en dat hulle weet daar is ’n plekkie van veiligheid vir hulle,” het tannie Antoinette gesê.

“Die grootste probleem wat Victim Support ervaar, dink ek, is geweld en misdaad teen vrouens en kinders.”

Omgee is deel van haar

Sy het ’n sagte plekkie vir kinders, veral omdat sy haar lewe lank met hulle gewerk het. Tog is sy lief vir elke mens en lewendige dingetjie. Sy erken sy raak baie maklik emosioneel betrokke met Victim Support-sake waarmee sy moet uithelp. Die onvoorspelbaarheid van uitroepe/misdaadstonele waarheen sy moet gaan is vir haar die grootste uitdaging van haar werk.

“Ek het groot respek vir elke mens wat na my toe kom vir hulp, veral as niemand anders daarvan kan uitvind nie omdat dit ’n baie sensitiewe saak is,” het tannie Antoinette in erns gesê.

“Dit vat geweldig baie moed.”

Sy leef om te help

Nie eers in haar vrye tyd hou sy op om om te gee nie – sy spandeer meeste daarvan om kos, klere en ander behoeftes te versamel vir almal wat sy probeer help. Tans hou tannie Antoinette haarself verantwoordelik om 23 gesinne elke dag te voer. Sy kry boonop gereeld honger mense wat aan haar deur klop, en sy maak altyd ’n plan om vir hulle te gee wat hulle nodig het.

“Ek is baie geseënd om elke week ’n baie groot hoeveelheid groente te ontvang, en binnekort sal ek ook ’n weeklikse toevoer van vrugte bykry,” het tannie Antoinette met ’n groot glimlag gesê.

Sy help mense van oral oor en is betrokke by vele gemeenskappe, insluitend Hillbrow en Germiston. Haar huis staan vol kratte klere wat sy in haar vrye tyd bymekaarmaak om vir die behoeftiges uit te deel. Sy stuur omtrent 50 swart sakke vol klere per week uit. Dan maak sy ook “kraam”-pakkies op (met die hulp van die Lions Club) vir mammas wat niks het nie. Sy versamel tweedehandse matriekafskeidrokke vir minderbevoorregte meisies en inkleur- en speelgoed en Santa’s Shoe Boxes vir minderbevoorregte kinders.

Tannie Antoinette vergeet ook nie van die bejaardes nie – sy kuier graag by aftree-oorde en tehuise vir bejaardes om hulle naels mooi te maak.

“Ek kan niks van dit doen sonder die klomp wonderlike mense wat my altyd help nie,” het tannie Antoinette met waardering gesê.

Haar dankbaarheid vir almal

Sy noem haar dankbaarheid: “Ek het baie liefde en groot waardering vir die volgende mense se wonderlike hulp: Sibongile Zikalala (my kosbare helpertjie), my drie dogters, almal van die Bracken-area WhatsApp-groepie, Marion, Zuzi, Morné van Battery Pro, Minnie, Peet, die bikers van Germiston, ‘Duiwel’, Afriforum Germiston, Wessel, Malcolm, Fernando, Tammy du Plooy, Happy Hearts Alberton en my suster Letitia.”

TROTSE OUMA: Antoinette Venter en haar liefste kleinseun, Paul Magnuski.

Kom ons help ook

Enigiemand is welkom om vir tannie Antoinette enige donasies te gee, behalwe geld. Nie-bederfbare kos-items, klere, speelgoed, of enige items wat aan minderbevoorregtes geskenk kan word, is baie welkom.

Kontak vir tannie Antoinette op 084 812 6715 indien jy enige donasies het en wil skenk.

Related Articles

Back to top button