EntertainmentLifestyle

Kerry-Lee stel haar nuwe album vry

Kunstenaar, Kerry-Lee, het haar nuwe album op 30 Julie, op i-Tunes vrygestel.

KUNSTENAAR Kerry-Lee, het haar nuwe album op 30 Julie, op i-Tunes vrygestel.

Die opgewekte, voetstamplekker wysie en vrolike lirieke van die liedjie, Hals Oor Kop, word deesdae gereeld oor die radio gehoor en het luisteraars van dag een af bekoor – net soos wat die sangeres, Kerry Lee, die afgelope paar jaar reeds diep spore kom trap het in die harte van aanhangers regoor die land.

Hals Oor Kop is geskryf deur Hugo Ludik – saam met wie sy voorheen gewerk het aan Shut Up En Soen My en Kaalvoet Boerseun – en Vaughan Gardiner, en is ’n ritmiese country-treffer wat haar stem soos ’n handskoen pas.

“Dit is ’n lekker tong-in-die-kies liedjie oor liefde en hoe malverlief jy kan raak wanneer jy jonk is. Dit is regtig ’n voelgoed-snit waarmee luisteraars lekker kan saamsing en identifiseer,” vertel Kerry Lee.

Die amptelike musiekvideo is ook pas bekendgestel en sy is baie opgewonde om dit met die publiek te deel.

“Dit is vir my so ’n voorreg om te kan sing en dit waaraan ons gewerk het vir mense te wys,” sê sy.

Kyk die video hier: 

Hierdie lewenslustige brunet hou al vandat sy drie jaar oud is konsert en het op die ouderdom van 11 self ingeskryf vir haar eerste Eisteddfod. Sy het Patricia Lewis se liedjie, Jy is die rede, gesing en dit was die begin van groot dinge.

Gedurende haar hoërskooljare, in Nelspruit, het sy gereeld aan kompetisies deelgeneem en is sy selfs genooi om in Mauritius en Engeland op te tree. Temaliedjies vir Love and Mortar en Street Rods Africa op DStv, ’n debuut-album, Vou Jou Arms Om My, in 2010, ’n optrede op die hoofverhoog by Innibos in 2011 en ’n nommer een-posisie op die Maroela Media Top 20-treffersparade met haar enkelsnit, Shut Up en Soen My, het aan haar ’n amptelike plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf besorg.

Kerry-Lee het groot bewondering vir kunstenaars soos Dolly Parton, Barbara Ray en Shania Twain, en dit is daarom geen verrassing dat haar nuwe album, wat binnekort op die rak gaan wees, ’n kombinasie van moderne country-musiek is nie.

Dans in die Reën bestaan uit 11 snitte, waarvan nege oorspronklike werke is, deur Vaughan Gardiner, Hugo Ludik en Roux Cloete.

Die titelsnit, Dans in die Reën, is ’n treffende akoestiese opname, wat selfs die kritieste oor tevrede sal stel.

“Die album gaan hoofsaaklik oor menslike gevoelens, veral die liefde. Die titelsnit, asook Werklik Myne Maak, lê my na aan die hart omdat dit gebaseer is op my persoonlike ervarings. Die CD is meer volwasse as my vorige werk, maar steeds jonk en prettig. Ek hoop dat dit luisteraars weer van vooraf verlief sal maak op die liefde,” verklap Kerrie-Lee.

Kerry Lee se gunstelingaanhaling oor die lewe kom uit die liedjie, Country Strong, en gaan daaroor om nooit op te hou glo en te baklei vir dit wat jy wil hê nie, en sy is ’n spreekwoordelike voorbeeld van hoe harde werk jou drome kan waar maak. As sy nie ’n sanger was nie, sou sy graag ’n forensiese antropoloog wou word, maar gelukkig het sy dit liewer aan die span van Bones oorgelaat, want dit is in die harte en ore van musiekliefhebbers waar sy die grootste verskil kan maak.

*Verskaf deur Alishia van Deventer, Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button