Local sportSport

Namies op die wenpad

Namies se harde manne hoef slegs nog net oor die Hoërskool Jan Viljoen hekkie te klim om die eindstryd onoorwonne binne te gaan.

DINAMIKA het hul vyfde oorwinning in ’n ry gevier na hul 33-17 tuis-sege oor Hoërskool Bastion op Saterdag 28 Mei. Hoërskool Dinamika is nou goed op pad om as kampioene uit die Goue Leeus Grootskole-toernooi te tree.

Die wedstryd was maar hakerig, en dus nie die opwindendste spel om te sien nie, en Bastion-spelers is verskeie kere met geel kaarte van die veld afgestuur, en daar was selfs gevalle wat nie uitgewys is nie.

Dinamika het goed gedoen om nie te veel daarby betrokke te raak nie, maar die spel was maar rof.

Die Namies het van die tyd dat die fluitjie geblaas het, druk op hul teenstanders gesit en die vleuel, Keano Annandale, het eerste bloed geruik deur in die hoekie te gaan druk.

Cha Deiker, die heelagter, het nog twee punte bygevoeg met sy skopvoet om Dinamika die voortou met 7-0 te laat neem.

Bastion het egter teruggeslaan met drie punte, nadat hulle ’n strafskop gekry het, om die telling 7-3 te maak.

Van daar af was dit maar een-rigting-verkeer met twee drieë onder die pale deur Deiker, wat hy self verdoel het, om sy span 21-3 op die telbord te laat voorloop net voor halftyd.

Na die tweede helfte begin het, het flank, Jason Zeiss ’n bal onderskep en nog ’n drie vir die Namies gaan druk, wat ook suksesvol verdoel is deur Armand Steyn, wat Annandale vervang het.

Deiker het later weer agter die pale gaan kuier met ’n goeie selfgemaakte drie.

Bastion het egter nie net gaan lê nie, en met twee verdoelde drieë teruggeslaan om die eindtelling bietjie meer gebalanseerd te laat lyk met 33-17.

Dit was ’n goeie vertoning deur Dinamika, maar hulle sal moet kyk na die foute wat hulle begaan het van hul eie afskoppe.

Namies se harde manne hoef slegs nog net oor die Hoërskool Jan Viljoen hekkie te klim om die eindstryd onoorwonne binne te gaan. En soos wat die span nou op dreef is, is dit beslis ’n moontlikheid. Namies het Jan Viljoen op Saterdag 4 Junie getakel, hou volgende week se uitgawe dop vir die uitslae.

Dit word verwag dat Jan Viljoen ’n sterker teenstander sal wees, so dit sal opwindend wees om te sien wat gebeur.

*Inligting en foto verskaf deur Wayne Raath.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

 

Related Articles

Back to top button