Local NewsNews

AfriForum stel water-verslae bekend

DIE burgerregte-organisasie AfriForum het in Maart vanjaar die gehalte van drink- en rioolwater in 132 Suid-Afrikaanse dorpe getoets.

Hierdie toetse het deel gevorm van dié organisasie se blou- en groendruppelveldtog, waartydens die gemeenskappe van die verskillende dorpe by hierdie projek betrek is. Lede van die gemeenskap het opleiding ontvang en die nodige toerusting is na elke AfriForum-tak in Suid-Afrika versprei.

“Dit is verblydend om te sien dat gemeenskapslede standpunt inneem en ’n verskil in hul gemeenskappe maak. Lede van die gemeenskap moet aandring op hul reg om toegang te hê tot skoon, lopende water en die onderskeie munisipaliteite tot verantwoording roep deur gereeld die gehalte van drink- en rioolwater te monitor. Die toetse het egter kommerwekkende resultate getoon en dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur en ’n tekort aan bekwame personeel om waterbestuurinstellings te bestuur. AfriForum het die dorpe wat nie binne die gestelde mikrobiologiese standaarde val nie versoek om die waterstandaard binne 24 uur te herstel,” het Marcus Pawson, AfriForum se hoof van plaaslike regering, gesê.

“Die gehalte van drinkwater is in munisipaliteite regoor Suid-Afrika getoets, en sewe van hierdie munisipaliteite het nie aan die gehaltestandaarde vir drinkwater voldoen nie. Die 2014-resultate het getoon dat die drinkwaterstelsels van 11 dorpe nie aan die standaarde voldoen het nie, terwyl hierdie getal in 2015 na vyf dorpe verminder het. Vanjaar het die getal egter weer na sewe dorpe uit 132 verhoog,” het Pawson bygevoeg.

AfriForum het ook rioolwaterstelsels in 72 dorpe landswyd getoets waar daar AfriForum-takke is. Sewe-en-twintig van dié stelsels het nie aan gehaltestandaarde voldoen nie. “AfriForum kon wel vanjaar daarin slaag om verskeie munisipaliteite se afvalwater te toets nadat die organisasie verlede jaar deur sommige munisipaliteite toegang tot sekere rioolwaterstelsels geweier is.

“Die 27 afvalwaterbehandelingsaanlegte wat nie aan die standaarde voldoen nie, kan ’n bedreiging vir menslike gesondheid, voedselsekerheid en die omgewing inhou. Die standaard van rioolwaterstelsels behoort in 2016 as prioriteit beskou te word gegewe die droogtetoestande in Suid-Afrika.”

Suid-Afrika se nasionale watergehaltestandaarde maak vir 1 000 eenhede E.coli per 100 ml water in behandelde rioolwater voorsiening.

SMS die naam van jou dorp aan 45354 om betrokke te raak by AfriForum se inisiatief om die volhoubare voorsiening van skoon water en die beskerming van ons waterhulpbronne te verseker (R1 per SMS).

*Verslag verskaf deur Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering vir AfriForum.

 

Related Articles

Back to top button