Local NewsNews

Lucia praat oor die Versamelvoël

Die vroue vergader weer op 13 Junie.

VLU-vroue van die Brackenhurst se tak het weer onlangs bymekaar gekom vir hul maandelikse vergadering. Die span se studierigting vir die dag was omgewingsbewustheid en die tema was voëls. Lucia Wilson het lede meer oor die versamelvoël, ook die VLU se voël van die jaar, ingelig. Sy het besonderhede oor die areas waar hierdie voëls, endemies aan Suidelike Afrika, voorkom gedeel, asook die verskille tussen die manlike en vroulike versamelvoëls, hul broei- en nesbougewoontes en ook die feit dat dit hierdie voëltjies se tipiese kultuur is om in kolonies van tot 500 voëls, saam te woon in neste wat tot soveel as 1000kg kan weeg.

Hulle broeiseisoene hang van reënval in die area af en begin gewoonlik om en by Augustus en kan tot nege maande lank duur. Gedurende baie droë seisoene broei hul glad nie.

Lucia het ook gesê dat sy nog baie meer feite en statistieke oor die wonderlike klein bruin voëltjie kan gee, maar sy vertrou dat sy genoeg inligting gegee het om met haar saam te stem dat hierdie net nog ’n voorbeeld is van God se wonderlike skepping.

‘Samewerking vir ’n beter toekoms’ is vanjaar se tema en Rosa von Rischbieuden het dit saam met die skriflesing en gebed behandel. Die studierigting van die jaar, kuns en geskiedenis met kulturele sake, is ook deur Lucia aangeraak toe sy die versamelvoël, wat saam woon in een reuse groot nes, bespreek het. Drie vroue het ook hulle diensknopies ontvang en hulle is Theresa Louw (40-jaar knopie), Anna-Marie du Plooy (40-jaar knopie) en Marianne Ehlers (30-jaar knopie). Barbara Steenkamp het die oorhandigings behartig.

Die voorsitter, Susie du Plooy, het verslag gelewer oor die Goue Suide Konferensie 2016 waartydens 13 item inskrywings vanuit dié tak gekom het en agt lede ook gekwalifiseer het vir deelname aan die Kongres 2016.

Die vroue vergader weer op 13 Junie by die NG Kerk in Brackenhurst en ander vroue is welkom om die vergaderings by te woon. Vir meer inligting, skakel Anita Liesching by 083 457 6332.

 

Related Articles

Back to top button