EntertainmentLifestyleNews

Modder en Bloed

Moed, dapperheid en kameraadskap vorm die kern van die nuwe Afrikaanse film, Modder en Bloed.

Moed, dapperheid en kameraadskap vorm die kern van die nuwe Afrikaanse film, Modder en Bloed. Die lusmaker lokprent van die nuwe Anglo-Boereoorlog film, Modder en Bloed, is op 7 Desember eksklusief deur kykNET vrygestel. In 1901, terwyl die Anglo-Boeroorlog in Suid-Afrika woed, word Boere-kryger Willem Morkel (Stian Bam) se vrou en enigste kind deur Britse soldate vermoor. Willem word gevange geneem en verban na die eiland van St. Helena waar ander Boere ook as krygsgevangenes aangehou word. Daar is geen genade vir hulle nie, onder verskriklike omstandighede word elke dag ’n stryd om oorlewing, maar dit wakker die kameraderie onder die mans aan, en hulle word soos familie. Kolonel Swannell (Grant Swanby) is in beheer van die konsentrasiekamp en het ’n vurige haat vir die Afrikaner, en hy maak hul bestaan so moeilik as moontlik. Dan aanvaar Willem ’n aanbod wat sal lei tot die belangrikste stryd van die Boere se lewens. “Willem is ’n groot rol. Ikonies in aard. So is Modder en Bloed ook epies in skaal en omvang, was duidelik met die eerste deurlees van die teks. Min kry jy die geleentheid om so ’n rol te kan speel en deel te kan wees van so ’n film. Dus was daar geen twyfel toe Sean my vra om Willem te speel nie. Ook wou ek baie graag met Sean werk en ek is baie dankbaar ek het die geleentheid gekry,” vertel Stian. Modder en Bloed se indrukwekkende ensemble-rolverdeling sluit Suid-Afrikaanse en Britse spelers in. Verskeie plaaslike akteurs soos Deon Lotz, Edwin van der Walt, Albert Maritz, Altus Theart, Jacques Bessenger, Bok van Blerk, Michael Richard en David Louw verskyn in die film, terwyl die Britse rolverdeling Charlotte Salt (Katherine Sterndale), Patrick Connolly, Nick Cornwall en Josh Myers insluit. Modder en Bloed is vervaardig deur Dark Matter Studios (Llewelynn Greeff en Henk Pretorius – Leading Lady) en Collective Dream Films (Sean Else – Platteland). Dit word op 1 April, 2016, landswyd deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik. Die film word in samewerking met kykNET Films en die Departement van Handel en Nywerheid uitgereik.

Related Articles

Back to top button