Local NewsNews

Helpende Hand wil 30 Kerswense in 30 dae bewaarheid!

Dit is amper Kersfees en Solidariteit Helpende Hand wil mense se Kerswense bewaarheid. Die publiek kan nou mense nomineer.

ALBERTON- Dit is amper Kersfees en Solidariteit Helpende Hand (SHH) wil behoeftiges se Kerswense bewaarheid.

Die publiek kan nou mense nomineer en Helpende Hand gaan poog om hul wense ’n werklikheid te maak. Oor die volgende 30 dae sal 30 wense ter waarde van R1 000 elk gekies word.

Tot en met 15 Desember kan Kerswense op Helpende Hand se Facebook-blad geplaas word vir oorweging. ’n Ekstra bonus is dat Helpende Hand se agt streke elk ook die geleentheid het om elke week ’n wens ter waarde van R1 000 uit hul streek te bewaarheid.

“Dit is Helpende Hand se kans om terug te gee,” sê Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Ons het heel jaar mense gehelp wat in nood verkeer. Nou kry ons egter die geleentheid om mense se drome waar te maak. Dit is ’n baie spesiale geleentheid.”

Dalk ken jy ’n bejaarde wat baie graag vir sy of haar familie wil gaan kuier, maar nie ’n vliegkaartjie kan bekostig nie. Dalk weet jy van ’n kind wat ’n fiets benodig, maar die familie kan dit nie bybring nie, of ’n sopkombuis wat dringend nie-bederfbare voedselprodukte benodig, of ’n ouetehuis wat komberse vir hul inwoners wil gee. Wat ook al die behoefte, jy kan daardie persoon of instansie nomineer om hul Kerswens tot en met die waarde van R1 000 te bewaarheid!

Besoek vandag nog https://www.facebook.com/helpendehand/ en nomineer ’n persoon wat dit werklik verdien. Wenners sal op sosiale media aangekondig word.

Vir meer inligting kontak gerus vir Michelle Burger op 012 644 4390, of stuur ’n e-pos na michelleb@helpendehand.co.za

Related Articles

Back to top button