Local NewsLocal newsNews

Landdros pak 94,7km aan vir liefdadigheid

Martin poog om die Alberton Kinderwelsyn, wat tans onder finansiële probleme gebuk gaan, by te staan.

Martin Kroukamp, die hooflanddros by die Palmridge Landdroshof, gaan op 15 November sy fietsspeke vir 94.7km laat sing om fondse in te samel vir die Alberton Kinderwelsyn.

Vir die afgelope vier jaar dien Kroukamp as voorsitter van die Alberton Kinderwelsyn en vanjaar het hy besluit om die 947 Momentum Cycle Challenge aan te durf om die publiek bewus te maak van kindermishandeling en die welsyn se geldnood.

Die Alberton Kindersorgsentrum gaan tans onder finansiële probleme gebuk en gaan waarkskynlik hul deure moet sluit.

“Die welsyn speel ’n belangrike rol in die samelewing omdat hulle verantwoordelik is vir ons kinders se toekoms – hulle bied ook, onder andere, dienste aan soos kinderbeskerming. Ek dink net mense sien nie meer die belangrikheid van dié instansie se werk in die gemeenskap raak nie,” verduidelik Kroukamp.

Lees Ook: Children’s Home in dire need of funds

Die Alberton Kinderwelsyn, ’n nie-regeringsorganisasie, is 75-jaar gelede begin en sien vandag om na 2 500 pleegsorgkinders in die Groter Alberton-area, wat om verskeie redes, uit hul ouerhuise weggeneem is.

Altesaam 25 voltydse personeellede moet maandeliks ’n salaris ontvang, insluitend vyf sosiale werkers en die kindersorgsentrum se nege versorgers.

HOU BENE HOU: Martin Kroukamp, hooflanddros by die Palmridge Landdroshof, gaan vir die Alberton Kinderwelsyn 94,7km ver op sy fiets trap.
HOU BENE HOU: Martin Kroukamp, hooflanddros by die Palmridge Landdroshof, gaan vir die Alberton Kinderwelsyn 94,7km ver op sy fiets trap.

“Daarom het ek besluit om my tyd vir die kinders in te span. Al sal ek nooit ’n atleet wees wat as wenner op die podium gekroon sal word nie, sal ek soos ’n wenner voel die oomblik wat ek oor die wenstreep is omdat ek dan my doel bereik het,” het Kroukamp gesê.

Verlede jaar het hy sy eerste 947 Momentum Cycle Challenge voltooi omdat hy aan homself wou bewys dat dit moontlik is.

“Hierdie jaar sal ek dit weer voltooi. Al die harde werk, sweet en pyn sal die moeite werd wees, want ek doen dit vir almal wat in my glo – ’n mens moet gefokus bly op die dinge wat belangrik is.”

Elmarie Kennedy, die welsyn se direkteur, het gesê sy wil volgende jaar ook haar lyf fietsryer hou en saam met Kroukamp die lang rit aanpak. Matrix Alberton het reeds beloof om R10 000 aan die organisasie te skenk.

Die RECORD daag ander besighede uit om hierdie bedrag te ewenaar.

Vir meer inligting oor die organisasie en hul nood kontak vir Kennedy by 083367584, 011-907 3004/5 of per e-pos by elmarie@albertonchildwelfare.co.za.

Verwante artikels:

• Child Welfare underfunded by a staggering 70 per cent

• Waters will visit Alberton Child Welfare

Related Articles

Back to top button