Local newsNewsSchools

Goeie nuus vir Afrikaanse onnies

Solidariteit Helpende Hand het onlangs ‘n nuwe nasionale beroepsorganisasie op die been gebring: Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT).

GeRAT is ‘n professionele organisasie wat beoog om belange van Afrikaanse Taalonderwysers se belange om te sien.

“Dié naam het sy oorsprong by die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), ’n organisasie wat in 1875 gestig is en ’n deurslaggewende rol in die vestiging van Afrikaans as selfstandige taal gespeel het.

GeRAT hoop om die vlam van taaltrots van die destydse GRA in die 21ste eeu onder Afrikaanse onderwysers, en dus ook Afrikaanse leerlinge, te laat brand,” het Ilze Nieuwoudt, Helpende Hand se mediaskakelbeampte gesê.

Helpende Hand glo dat beter toegeruste onderwysers ’n regstreekse invloed het op die gehalte van die onderwys wat kinders in die klaskamer ontvang.

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum, is daar ’n sterk verband tussen moedertaal en kultuur.

“Moedertaal vorm die hoeksteen van enige kultuur; die rol wat die taalonderwyser in die klas vertolk het ’n groot invloed op die vestiging van kulturele waardes en dit is juis hier waar ons aan onderwysers die nodige steun moet gee,” verduidelik hy.

GeRAT is die tweede beroepsorganisasie wat Helpende Hand gestig het. Die eerste is die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, wat vier jaar gelede tot stand gekom het.

Die eerste GeRAT-kongres vind binnekort plaas en hoërskoolonderwysers wat die vak Afrikaans aanbied word aangemoedig om hierdie kongres by te woon.

Dit vind op 29 Junie plaas en word by die Buffelspoort ATKV-oord aangebied.

Tydens die geleentheid sal daar, onder meer, ’n praatjie deur dr Riens Vosloo, skrywer en kurrikulumkundige, aangebied word, oor Onderwêreld, die 2016 voorgeskrewe roman vir graad 12-leerlinge.

Besoek www.gerat.co.za vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button