Local newsNews

Anneline laat ’n leemte in Alberton

“Haar afsterwe laat ’n groot leemte agter omdat sy deur baie mense geken en liefgehad is.”

MET verwysing na verlede week se artikel op bladsy twee getiteld “Rus in vrede, Anneline”, deel die REKORD graag ’n meer in-diepte storie oor haar lewe en die impak wat sy op die gemeenskap van Alberton gemaak het.

Anneline van der Merwe is op 7 Maart oorlede en haar begrafnis het verlede Vrydag in Lambton plaasgevind. Haar afsterwe laat ’n groot leemte in die gemeenskap omdat sy deur baie mense geken en liefgehad is.

Haar dogters, Nicolene (30), Charné (24) en Chanel (24) deel haar lewensverhaal met die REKORD.

Anneline is in Uitenhage, Oos-Kaap gebore. Haar familie het later Welkom toe getrek en daarna het sy haar voete in Alberton gevind. Sy was die jongste van vyf kinders (drie susters en ’n broer) en die enigste een van die vyf wat gematrikuleer het. Sy het ook later ’n diploma in blommerangskikking en ’n sertifikaat in ponswerk verwerf. Sy het ook in haar vroeë 20’s by Volkskas Bank gewerk.

Anneline was vreeslik goed met handwerk en daarom het sy sommer self haar eie matriekafskeidrok gemaak. Haar ouers, Hester Muller (94) en Danie Bezuidenhout was baie trots op haar.

“Sy was ’n baie sterk, onafhanklike vrou wat alles self opgebou het in haar lewe,” het Chanel trots gesê.

“Sy kom van ’n arm kindertyd af en sy het haar kinders enkellopend grootgemaak. Dit was ook vir haar baie belangrik om ons in liefdevolle, dramalose omstandighede groot te maak.”

Gedurende haar huwlik met Ernest van der Merwe (pa van al haar kinders), het hulle saam ’n staal meubelmaatskappy, H&M en later A&M, oorgekoop en bestuur. Anneline het beslis met haar talente gewoeker. In 1997 het Anneline die welbekende Alberton restaurant, De Landauer, by die stigter oorgekoop. Sy was die eerste eienares wat ’n dranklisensie vir die restaurant gehad het.

“Sy het altyd klante in haar hoë-hakskoene bedien. Sy het baie klas en styl gehad en mens kon haar altyd deur ’n ring trek,” het Charné met ’n glimlag gesê.

“Sy het uit haar pad uit gegaan vir ander. Sy was ook altyd daar om te luister as mense wou praat – sy self was lief daarvoor om te gesels en kon vir ure aanhou. Sy het altyd gegroet en gevra hoe dit met almal gaan. En sy het altyd ’n glimlag op haar gesig gehad, ongeag van die omstandighede,” het Charné bygesê.

“Ons ma het nie een aand gaan slaap sonder om eers Bybel te lees nie,” vertel ousus Nicolene.

“Sy was ’n toegewyde ouderling by die NG-kerk Alberton-Wes. Elke jaar by die Klipkoppie Fees was sy daar om kerrie en rys te verkoop wat sy self gemaak het.

“Dan het sy ook blomme gedoen vir almal wat hulp daarmee gekort het,” het Nicolene bygesê.

“Sy was die ‘go-to’ as dit by blomme gekom het. En wanneer dit by ons sportbyeenkomstes gekom het, het sy nie een byeenkoms uitgesit nie. Sy was altyd daar wanneer ons haar nodig gehad het.”

In 2003 het Anneline De Landauer se leisels oorgegee aan Nicolene, maar het hul later besluit om die restaurant te verkoop. Anneline het in 2003 teruggekeer om te werk by A&M totdat dit in 2012 toegemaak het.

In 2013 het sy Annie’s Kiddy Cab, ’n vervoer besigheid vir skoolkinders, begin om ’n inkomste te genereer. Sy het begin met een of twee kinders, maar tot voor haar dood het sy al meer as 30 kinders op ’n daaglikse basis vervoer.

“Sy was ’n baie besige vrou, maar haar prioriteite was altyd reg,” het middelsus Chanel gesê.

Anneline is in die laat 2000’s gediagnoseer met lupus, ’n inflammatoriese siekte wat veroorsaak word wanneer ’n mens se immuunstelsel die liggaam weefsel aanval. Dit het vererger totdat sy in 2013 met nierversaking gediagnoseer is.

Sy moes drie keer per week vir vier ure lank dialise ondergaan, tot en met haar dood.

Verlede jaar het Anneline se hart gaan staan, maar gelukkig was dit nie die einde nie. Daarna was sy aanhoudend in en uit Milpark Hospitaal, Johannesburg. Haar hart het weer Oktober gaan staan en sy was in intensiewe sorg vir twee weke.

In Februarie van hierdie jaar is sy met hartversaking gediagnoseer. Daarna was sy in ’n komatose-toestand. Daarna het haar kondisie net vererger totdat haar organe ingegee het.

Op 7 Maart is Anneline oorlede.

“Ons sal haar vir altyd mis,” het al drie dogters emosioneel gesê.

“Sy was so ’n wonderlike, sterk vrou. Selfs toe haar niere nie gewerk het nie sou ’n mens nooit kon raai dat iets fout was nie. Sy was selfloos en het alles vir haar mense gedoen.

“Sy sal verewig ’n deel van Alberton wees. Dankie vir almal se liefde en ondersteuning deur hierdie tyd van smart. Ons weet sy sou dit meer waardeer as enigeiets anders,” het hulle gesê.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button