Local newsNews

NG Kerk Brackenhurst verwelkom nuwe dominee

“Moenie dit doen vir enige soort status nie,” sê hy. “Doen dit alles vir God.”

SOMMER so uit die staanspoor uit is daar ‘n eerlike egtheid wat uit die man uitstraal en jy weet net, hier is ‘n raakvatter met ‘n passie vir sy mense en roeping. Dominee Phillip Coetzee is onlangs aangestel by die NG Kerk, in Brackenhurst, en is nog nuut in hierdie deel van die land. Maar die nuwigheid gaan hom nie afskrik nie en hy gesels maklik oor sy opgewondenheid vir hom en sy gesin en sy gemeente se toekoms hier.

Dit is sy passie om te sien hoe mense groei in hul geloof. “Om te sien hoe mense se lewens omkeer van goed na sleg is vir my die mees rewarding deel van dominee wees,” sê hy.

Ds Phillip kom oorspronklik van Namibië af waar hy in Walvisbaai groot geword het en later Windhoek toe getrek het. Uiteindelik skuif hy Suid-Afrika toe om sy passie te volg en te studeer.

Hy en sy vrou, Sanette, is al 28 jaar getroud en hulle het twee volwasse kinders, ‘n dogter en ‘n seun. Hy gaan hou graag vakansie met sy gesin – hulle geliefkoosde vakansiebestemmings is waar die see is.

“Namibië is lekker; ons geniet dit om in Hentiesbaai te gaan ontspan,” sê hy terwyl hy maklik gesels oor sy liefde vir hengel en hoe baie hy dit geniet.

Maar wanneer dit by sy roeping en mense kom is dit ‘n ernstige saak. ‘n Les wat hy vir ander dominees sou wou leer, is dat mens altyd eg moet wees.

“Moenie hierdie beroep, of roeping, volg vir enige soort status of fame nie,” sê hy. “Doen dit alles vir God.” Hy voeg by dat, as mens nie kan empatiseer nie, of nie baie omgee vir jou medemens nie, dan is hierdie nie die regte werk vir jou nie.

Sy vooruitsig is vol hoop dat soveel moontlik mense hul lewens kan omdraai om die beste van hulself te kan ontdek. Hy hoop om diegene wat sukkel te sien groei in hul geloof en lewens.

En vir nou sien hy uit daarna om NG Kerk Brackenhurst vir jare by te staan.

Albertoners word uitgenooi na ds Phillip se intreepreek, op Sondag, 12 Februarie, by die NG Kerk Brackenhurst, Hennie Albertsstraat, waar die egpaar verwelkom gaan word.

Die diens begin om 09:00.

Vir meer inligting, kontak vir Annemarié op 011 867 3623, tydens kantoorure.

Related Articles

Back to top button