EntertainmentLifestyle

Patrizio stel nuwe album vry

Die internasionale sanger, Patrizio Buanne, wat spog met multi-platinum album verkope, is gereed om Suid-Afrika vir die 10de keer te besoek!

Die internasionale sanger, Patrizio Buanne, wat spog met multi-platinum album verkope, is gereed om Suid-Afrika vir die 10de keer te besoek!

Hy is spesifiek bekend vir sy unieke stem, sowel as sy interaktiewe en lewendige vertonings. Hy het ‘n magdom aanhangers wêreldwyd en spog met ‘n reputasie as ‘n unieke sanger en Australië se gunsteling Napolitaanse “pop crooner”.

Hy tree al vir meer as ‘n dekade in uitverkoopte teaters in Europa sowel as Australië, Suid-Afrika, Rusland en die VSA op, en het al vir bekendes soos die Pous, koninklike families en die vorige VSA President, George W Bush, opgetree.

Net omdat hy romanties is, en daaroor sing, beteken dit nie dat hy vervelig is nie, meen die Italianer.

“Ek het groot geword met my ouers wat klassieke liedjies van die ’50s en ’60s in hulle restaurant in Naples, Italië, gespeel het,” sê die gewilde minnesanger.

”Ek het altyd saamgesing, maar besluit om liewer later rock ‘n roll te sing.

”Ek was baie goed, het mooi kitaar gespeel en rondgespring op die verhoog, maar dit het my gepla dat die lirieke nie diepte het nie. Ek hou van lirieke wat iets beteken.

“Romanse gaan oor baie meer as kersligetes en Valentynsdag. Dis iets wat elke dag moet gebeur; iets wat jy in jou hart het.

”Om iemand se hand vas te hou, te respekteer, by te staan, om te gee, lief te hê, te help in die kombuis… en ja, selfs skottelgoed was.

“Om romanties te wees is om te luister na jou hart en jouself te wees. ‘n Mens moenie te veel daaroor dink nie. Dit wat in jou hart is moet by jou mond uitkom. ‘n Mens moet eg wees. En dit is waaroor ek sing.”

Viva La Dolce Vita is Patrizio se vierde internasionale album en het, soos al die voriges, reeds platinum status bereik oorsee. Dit is ‘n ongelooflike prestasie, veral omdat musiek verkope wêreldwyd afneem. Dit bevat van sy gewilde treffers in Engels en Italiaans soos, ”Surrender”, ”Al Di La”, ”Il Mondo”, ”Mambo Italiona”, ”Un Angelo”, en ook ‘n paar nuwes.

Die album is vanaf 24 Junie 2016 ook in Suid-Afrika beskikbaar, maar as dubbel CD, want Patrizio het ‘n spesiale 10 jaar herdenking verrassing vir sy getroue aanhangers hier – ‘n bonus CD. Daarop sing hy treffers saam met plaaslike sterre. Soos ”Liefling” saam met Steve Hofmeyr, ”Always on my mind” saam met Juanita du Plessis en ”Ek mis jou elke dag ‘n bietjie meer” saam met Corlea Botha.

Hy sal op 29 en 30 Julie by Classics is Groot, by die Moreletapark Auditorium, gesien word, ‘n vertoning wat aangebied word deur Coleske artists, wat ook verantwoordelik is vir Afrikaans is Groot. By Klassiek is Groot gaan daar gefokus word op ou klassieke gunstelinge, met nuwe woema. Kunstenaars soos Jannie Moolman en Corlea Botha sal onder andere ook saam met Patrizio optree.

Patrizio sing al vir 25 jaar.

“Ek is nie ‘n tenoor nie en ook nie ‘n tradisionele klassieke sanger nie. Ek hou van mooi, romantiese lirieke wat paartjies gelukkig maak. Musiek wat mense se harte roer. Daar is altyd baie vroue by my konserte en ook ‘n hele paar mans, omdat hulle weet hulle gaan baie punte kry as hulle saamgaan,” sê hy en glimlag stout. “Dit is lekker om hulle gelukkig te maak.”

*Uitgereik deur Alicia van Deventer van Starburst Promotions.

U mag ook belangstel in:

*albertonrecord.co.za/…/charlize-berg-stel-haar-nuwe-album-vry/;

*albertonrecord.co.za/…/bouwer-bosch-stel-nuwe-video-en-enkelsnit-vry/

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button