Local NewsNews

AfriForum: Registreer eerder direk by skool

AfriForum is oorval met klagtes van gefrustreerde ouers wat steeds nie hul kinders aanlyn kan registreer soos die Departement van Onderwys in Gauteng versoek het nie.

AFRIFORUM is oorval met klagtes van gefrustreerde ouers wat steeds nie hul kinders aanlyn kan registreer soos die Departement van Onderwys in Gauteng versoek het nie.

Dié aanlynregistrasieplatvorm was vir ’n week onaktief weens tegniese probleme en sou volgens die departement op Dinsdag 19 April om 08:00 weer in werking gewees het.

Die gevolg hiervan is dat ouers steeds nie hul kinders vir graad een of graad agt in 2017 by skole kon registreer nie.

Talle ouers wat verlede week wel daarin kon slaag om toegang tot die webtuiste te verkry voordat dit in duie gestort het, het onder meer gekla dat hulle hul kinders slegs by een skool in hul woon- of werksgebied kon registreer.

Weens die probleme met die aanlynregistrasieplatvorm moedig AfriForum ouers steeds aan om hul kinders direk by skole van hul keuse in te skryf.

“Vandag se voorval bevestig net weereens AfriForum se standpunt dat skole en skoolbeheerliggame self beheer moet uitoefen oor skole se registrasieproses en toelatingsbeleid,” het Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, gesê.

“Dié inisiatief van die departement het vir ’n tweede opeenvolgende jaar misluk en is ’n onnodige mors van ouers sowel as onderwysers se tyd.”

AfriForum sal die situasie monitor en enige verdere inligting aan die publiek deurgee.

AfriForum ondersteun ook die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) wat in die proses is om dringende stappe teen die departement te neem.

*Media verklaring uitgereik deur Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

 

Related Articles

Back to top button