Local newsNews

JOU beenmurg kan dalk Claire se lewe red!

Jong ma van twee seuntjies moet dringend 'n skenker vind

 

VEREENIGING/HEIDELBERG. – Op 27 Februarie vanjaar het ‘n plaaslike foto- en videograaf, Claire van der Walt, ‘n onverwagse skokdiagnose gekry: Sy ly aan MDS pre-leukemie, ‘n vorm van bloedkanker. Daar is op die oomblik geen medikasie of behandeling wat dit kan genees nie. Al wat haar lewe kan red, is beenmurg van ‘n geskikte skenker.

Claire se gesondheidsprobleem het in Januarie begin toe sy baie moeg gevoel en flou geword het. Hoewel sy dit toegeskryf het aan haar lang werksure, is sy nogtans dokter toe. ‘n Beenmurgbiopsie is gedoen, wat getoon het dat sy inderdaad aan MDS ly en dringend ‘n beenmurgskenking moes kry.
Uit ‘n totaal van 39 mijoen skenkers wêreldwyd, is daar tans nie ‘n enkele een wat 100% geskik vir haar is nie – slegs een in die buiteland wie se beenmurg 90% aanpasbaar sal wees. Volgens haar mediese span sal dit ‘n baie hoërisiko oorplanting wees. Claire se hospitaalplan sal die koste van die basiese prosedure dek, maar sy sal self ‘n verdere R1.3 miljoen moet opdok om die buitelandse skenker se beenmurg te laat oes en dit binne 48 uur veilig in Suid-Afrika te kry. Sy hoop steeds om eerder ‘n Suid-Afrikaanse skenker te kry wie se beenmurg 100% geskik sal wees.

“As vrou en mamma van twee seuntjies wil ek asseblief vra dat almal wat dit oorweeg om ‘n skenker te word, op die skenkerswebblad registreer om op die databasis te kom. As julle nie ‘n gepaste skenker vir my is nie, kan julle dalk een vir iemand anders wees en ‘n lewe red,” sê sy. “Ek is uit my hart uit dankbaar teenoor almal wat al geregistreer het.”

Om beenmurg te skenk is ‘n pynlose proses. Dit stem baie ooreen met gewone bloedskenking, hoewel die prosedure tussen 4 en 6 ure kan duur. Dit hou geen finansiële implikasies vir die skenker in nie. Mense wat skenkers wil word, kan by www.dkms-afrika.org registreer, of kontak 071 325 0238 vir meer inligting.

* ‘n Gesellige damesoggend ten bate van Claire se mediese onkoste word beplan vir 7 September. Dit sal vanaf 10:00 by The Braai Wagon in Brandmuller-rylaan 10, Vereeniging gehou word. Die koste is R130 per persoon en sluit ‘n ligte ontbyt in. Alle vroue en meisies word genooi om dié opbouende kuier saam te kom geniet. Die motiveringspreker Pieter Motiveer gaan ‘n inspirerende praatjie lewer en beloof om “almal se batterye te herlaai”. Besprekings kan gedoen word by Dimitri by 082 399 6613.
Mense wat Claire graag met ‘n donasie wil bystaan, kan ‘n inbetaling maak aan: Claire van der Walt, Capitec, Spaarrekening: 1387419496, Tak: 470010, Verwysing: Dames 3

Besoek haar BacK a Buddy blad hier: https://www.backabuddy.co.za/campaign/claire-van-der-walt

Claire van der Walt saam met haar man, Johan, en seuntjies, Carlo (4) en Simon (6).
Claire van der Walt saam met haar seuntjies, Carlo (4) en Simon (6).

 

Back to top button