NewsNews

Valiant Swart Vrydag in Vanderbijl

Maak skoon jou dagboek. Bespreek jou kaartjies. Vrydag word daar saam met Valiant Swart gekuier.

VANDERBIJLPARK – Valiant Swart is een van Afrikaans se diep seuns. Sy musiek strek wyd en ver en elkeen toor met jou emosies.

Daar is die lekker loslit songs wat jou voete laat jeuk, die blues wat jou na ander tye en mense laat verlang, die ballades en dan sommer net die waarmee jy wil saamsing.

Die man mag maar. Hy doen dit al vir dekades. Vrydag, 6 September kom kuier hy in Vanderbijlpark by Mighty Grow te 82 Ravelstraat.

Hy en kunstenaar, Lourens Nolte maak ‘n gedugte kombinasie en daar gaan groot gekuier en lekker musiek gemaak word.

“Dis tyd dat ek weer ‘n draai in Vanderbijlpark maak,” het Valiant in ‘n telefoniese onderhoud gesê.

Die Kapenaar van geboorte vat kort-kort die lang pad en kuier dwarsoor Suid-Afrika met sy stories en musiek.

Hy onthou die vorige keer toe hy in Vanderbijlpark was wou die mense nie huis toe gaan nie. “Ons het net aanhou speel,” vertel hy.

Vir die 6de September se groot kuier beloof hy om ‘n kombinasie van sy ou treffers, nuwe musiek en alles van blues tot hartvat songs te sing.

“Ek sien uit na die optrede. Sien julle die 6de. Ek weet hoe die Vaaldriehoekers ‘n vertoning kan geniet.”

Die optrede begin om 18:30. Kaartjies beloop R120 pp en is te koop by Mighty Grow Kwekery, of kontak Danie by 082 894 0136. Daar sal ook kos en drinkgoed te koop wees.

Back to top button