Local newsNews

Steve Hofmeyr en gesin nou weer tuis in sy geboortestad

In ’n nousluitende leerbroek en 'n onnutsige kyk in sy oë, het sanger Steve Hofmeyr in sy geboortestad 'n intieme gehoor in die palm van sy hand gehad. Hofmeyr, nou 'n inwoner van Pretoria, het na die hoofstad getrek vir die goeie Afrikaanse skole.

Of hy nou voor ’n skare van 20 000 aanhangers sing of alleen met net ’n kitaar en ’n multimedia-aanbieding in ’n intieme teater soos Die Blou Hond in Pretoria-oos… Steve Hofmeyr weet steeds hoe om die sjarme-kraantjies oop te draai!

Die dimpels in sy wange is nog net so diep en die vonkel in sy oë net so onnutsig soos toe hy in1996 met sy eerste treffer “Laaste lag” die Afrikaanse musiektoneel soos ’n warrelwind getref het.

Die “boytjie van Hennenman”, soos wat hy soms in die Vrystaat bekend staan oor sy kleintyd daar, se stem en vertolkings skuins voor sy verjaarsdag op 29 Augustus vanjaar is steeds pure goud. Hofmeyr is in 1964 gebore.

Vroeër vanjaar het Hofmeyr, sy eggenoot Janine en hul dogter, Romy-Lee, hul in Pretoria-oos in Wapadrand gevestig.

Hofmeyr het aan Rekord verduidelik die hoofrede vir die verhuising na sy geboortestad uit Kyalami se wêreld naby Johannesburg, is om ’n goeie Afrikaanse skool vir Romy-Lee te vind.

“En in Pretoria kan ouers wragtig kies en keur,” glo Hofmeyr.

Hy het sy vertoning van 8 Augustus in die Die Blou Hond afgeskop met ’n gepaste terugblik-liedjie, “Kyk hoe lyk ons nou”.

 

Dié teater vier vanjaar sy 11de bestaansjaar in Pretoria.

“Musiek is nog altyd hoog op elke Pretorianer se prioriteitslys, maar dit is deesdae ’n rare ondervinding om jou gunstelingkunstenaar in ’n intieme opset te kan beleef. Dit is wat Die Blou Hond so uniek maak. Daar is slegs plek vir 160 mense per vertoning, so dit voel letterlik of jy in die kunstenaars se sitkamer kuier. Uit 11 jaar is daar soveel hoogtepunte, dat dit moeilik sou wees om een uit te lig. Elke kunstenaar se vertoning is ’n besonderse belewenis en ons sien uit na die volgende 11 jaar,” sê eienaar, Anette Burden.

Hofmeyr het oor sy eie nostalgiese reis met musiek met die gehoor gesels, sy gunstelinge uitgesonder en tot die vermaak en bewondering van die teatergangers nagemaak.

Sy gunstelinge sluit die sanger met die diep en donker stem, Roger Whittaker, in wat Hofmeyr al sedert agtjarige ouderdom namaak.

Verder het hy ook gewilde liedjies van sy sanghelde Bob Seger, die 88-jarige Kris Kristofferson en Tom Jones gesing, en staaltjies rondom ’n optrede of twee saam met die komediant Al Debbo, en die sing van die liedjie “Hasie” vertel.

Vir Hofmeyr is dit egter die groep, The Staccatos, uit die sestigerjare met die treffer “Don’t you feel like crying” wat uitstaan.

“Ek sing omdat hulle gesing het,” meen Hofmeyr.

’n Aand sonder die “Blou Bul”-lied is natuurlik nie moontlik voor ’n Pretoria-gehoor nie.

“Dit gaan my laaste woorde op hierdie aarde wees,” vertel Hofmeyr. “Ek wil ’n Blou Bul wees.”

Hofmeyr gee graag eer waar eer toekom en het ’n oomblik aangedaan geraak met die sing van ’n liedjie van Theuns Jordaan en erkenning gegee aan die opname saam met Centurion-gospelsanger Leon Ferreira, “Jou werk hier is klaar”.

’n Hofmeyer-vertoning sal onvolledig wees sonder sy grootste Spotify-treffer van 2018 saam met Demi Lee Moore, “Amanda”, wat al meer as 4.9 miljoen keer op die stroomdiens geluister is.

Hy het ’n sosiale media-aanhang waarop enige politikus maar kan hoop. Sy Maandagoggend video’s word so 148 000 keer gekyk in die eerste 48 uur, en so 20 000 keer op YouTube.

Maar hy wil nie daaroor spog nie. “Ek wil net dankie sê,” vertel Hofmeyr.

Statistiek oor sy loopbaan sal die mees toegewyde bewonderaar laat regop sit: Meer as 40 treffer-albums, 10 films, en honderde konserte. Sy Ikoon-konserte volgende jaar in Maart om sy 60ste verjaarsdag te vier, is reeds uitverkoop.

Hofmeyr sê steeds ’n ding nes hy is volgens sy siening en geen konsert sal sekerlik verbygaan sonder ’n patriotiese liedjie of twee nie. Hy erken ruiterlik hy is sekerlik die “mees geboikotte kunstenaar in Afrika”.

Ook nie sonder ’n Neil Diamond-medley nie met die immergroen “Sweet Caroline” as ’n saamsingbonus.

Daar is ook ’n draai by Hofmeyr se ander gewilde liedjie uit die treffer TV-reeks uit die tagtigerjare “Agter elke man” gemaak met die nimlike Ant Stienie wat hom natuurlik as Bruce reghelp.

Maar dis wanneer die appel-van-haar-pa-se-oog, Romy-Lee, saam met hom in ’n video optree, wat Hofmeyr so sag soos ’n malvalekker word.

Hy vertel vermaaklik hoe sy hom oorreed het om saam met haar ballet te doen. Die kostelike gesig van Hofmeyr wat ’n pas de deux waag, is op film in sy musiekvideo oor sy Aitsa-benoemde treffer “Romy” verewig.

“Dis daai tipe liedjie,” maak Hofmeyr verskoning toe hy effe aangedaan raak.

Kliek hier om na die liedjie “Romy” te luister: https://www.youtube.com/watch?v=m3_b88YkGPo

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button